Webinaar deel wyse wenke

Webinaar deel wyse wenke


Redaksielede van HSB (Hoërskool Bonnievale) het onlangs ‘n geleentheid vir kennis en ervaring aangegryp en baie wyser geword ten opsigte van die uitleg van skoolkoerante.

Anja du Plessis, Marlé Oosthuizen en Heinrich Wentzel, gr. 10-redaksielede van HSB se Voorwaarts-skoolkoerant, het op 29 April 2020 Beeld se insiggewende aanlyn opleidingsessie vir gedrukte en digitale uitleg van skoolkoerante bygewoon. Behalwe vir die nuwe vaardighede, kon hulle ook ‘n realistiese idee kry van hoe die pad vorentoe sou lyk indien hulle redakteurs van die skoolkoerant sou word.

Verhoog en sitplekke van die Beeld-webinaar. Foto: Heinrich Wentzel

Mnr. Rudolph Pieterse, grafiese ontwerp- en webontwikkelingsafrigter by ofcourseyoucan.com, het die twee uur opleiding aangebied. Hy het die leerders stap vir stap gewys hoe om op Scribus skoolkoerantvoorblaaie en binneblaaie te ontwerp en uit te lê.

Die leerders moes voor die tyd die Scribus-programmatuur aflaai en kon later hul eie ontwerp daarop uitlê.

Hulle kon ook gedurende die webinaar kommentaar lewer en vrae vra. Dít was vir hulle ‘n baie interessante ervaring. Marlé Oosthuizen noem dat dit ‘n baie goeie ondervinding was. “Ek het dit vreeslik geniet en het baie daaruit geleer.”

Die webinaar het op GoBrunch plaasgevind. GoBrunch is die eerste gratis platform in die wêreld wat verbruikers toelaat om webinaars sonder ‘n tydbeperking te skep wat 500 persone kan bywoon. Dit sluit opname- en kommentaarfunksies in. GoBrunch se doel was om ‘n kennisplatform te skep waarop enigiemand gedurende regstreekse sessies kennis kon deel en ontvang.

Jana Wessels, oudredakteur van Voorwaarts-skoolkoerant, voel dat dit ‘n wonderlike geleentheid is om oor die uitleg van ‘n koerant te leer en om te sien wat van ‘n redakteur verwag word. “Ek dink die meeste redakteurs gaan ‘n bietjie blindelings in die taak in en is baie onseker oor hul taak as redakteur. Daar gebeur baie goed agter die skerms en die grootste werk is om die koerant uit te lê.” Sy voeg by: “Só ‘n geleentheid kan kinders laat besef dat dit iets is waarvan hulle sal  hou óf sommer nou al moet laat vaar.”

Die voorblad van ‘n koerant word op Scribus uitgelê. Foto: Heinrich Wentzel

 


2 Replies to “Webinaar deel wyse wenke”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 × 5 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW