Gemeenskap en ondernemings staan saam in nood

Gemeenskap en ondernemings staan saam in nood


Tydens die Covid-19-inperking het ‘n wonderlike inisiatief in die Bonnievale-gemeenskap onder die leiding van mnr. Theuns Coetzee ontstaan. Die inisiatief is ‘n voedingskema wat tydens die huidige onseker omstandighede weekliks kospakkies verskaf aan persone wat hul werk verloor het as gevolg van die inperking.

Vrywilligers besig om stampmielies in sakkies te gooi. V.l.n.r. Heinrich Wentzel, Natasja Wentzel, Thia Wentzel. Foto: Verskaf

Die projek het begin met 200 kospakke per week, maar is vermeerder na 350 pakke twee keer ‘n week. Die waarde van die twee kospakke per gesin beloop R238 000 (R340 x 700). Elke kospak is voldoende vir ‘n gesin van vier.

Die kospakke word deur vrywilligers in die kerksaal gepak.

Die pakke bestaan uit noodsaaklikhede soos rys, meel, suiker, soja, melk, aartappels, stampmielies, uie, pampoen, toiletpapier, olie, Future Life-pap, blikboontjies, ingemaakte vrugte en badseep.

Bonnievale Emergency Feeding Scheme (BEFS) is oorspronklik gestig met ‘n finansiële inspuiting van R330 000 wat deur Luxembourg via Bonnie People Project geborg is. Die maatskappy Care Cube het 81 500 pakkies pap geborg, met ‘n astronomiese waarde van R403 000. Woolworths Foods het ook ‘n reuse voorraadbydrae gemaak met produkte van vleis tot roomys. Boere in die gemeenskap voorsien vars produkte. Lactalis gee weekliks melk. Ingemaakte vrugte en blikboontjies word weekliks vanaf Langeberg & Asthon Foods ontvang.

Jakes Gerwel Tegniese skool kanaliseer ook hul kosvoorrade vanuit hul eie voedingskema na BEFS.

Uit die Bonnievale-gemeenskap is daar reeds R53 000 kontant ingevorder vir verdere uitgawes.

BEFS verskaf, buiten die kospakke, ook warm sop en broodjies aan ongeveer 1600 persone per week. Worcester Sasko skenk weekliks 200 brode. Die brode word deur vrywilligers gesmeer en kry elkeen ‘n kaasskyfie op, voordat dit saam met die sop uitgedeel word.

Die sop word hoofsaaklik in Jakes Gerwel Tegniese skool se kombuis voorberei en daarvandaan versprei. Daar is ook drie satellietkombuise wat help met die verspreiding van die sop.

Twee ton sampioene geskenk deur Royal Mushrooms vir die sop. Foto: Verskaf

Volgens mnr. Coetzee is die grootste uitdaging van hierdie projek die feit dat daar persone is wat nie kwalifiseer vir kospakke nie en dit nie kan verstaan nie. Politieke tentakels neig gereeld om die projek binne te dring en dit moet ten alle koste verhoed word aangesien hierdie ‘n liefdadigheidsprojek is. Die projek is gebaseer op die bestuur van die ekonomiese uitdagings van Covid-19. Die leierspan probeer dit só bestuur dat dit vir ‘n langer tydperk volhoubaar kan wees aangesien niemand weet hoe lank die virus die gemeenskap gaan beïnvloed nie.

Mnr. Coetzee het genoem dat hy diep geraak is toe hulle roomys uitgedeel het en ‘n kind begin huil omdat dit nie sop was nie. “Dan besef jy hoe honger hulle regtig is!”

Geen pensioenarisse of persone wat Sassa-toelaes kry kom in aanmerking vir hierdie kospakke nie.

 

 


2 Replies to “Gemeenskap en ondernemings staan saam in nood”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 × 5 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW