Somber winter wag op toerisme-sektor

Somber winter wag op toerisme-sektor


Wêreldwye inperkingregulasies, as gevolg van die Covid-19-pandemie, het die toerisme-sektor hard getref. Volgens tralac.org het die uitwerking ‘n rimpeleffek op baie ondernemings.

Tot dusver was daar geen gedeeltelike vrystelling van inperking vir die toerismebedryf soos in die geval van die bankwese-, mynwerke- en voedselhandel-sektore nie. Erger nog is dat die toerismebedryf verwag om stadiger as enige ander sektor te herstel ná die pandemie.

President Cyril Ramaphosa het op Sondag 15 Maart die uitbreek van Covid-19 tot ‘n nasionale ramptoestand verklaar. Verskeie streng maatreëls en inperkingregulasies is ingestel. Suid-Afrika is reeds 60 dae in inperking.

‘n Somber atmosfeer by een van Suid-Afrika se top toeriste-aantreklikhede, die V&A Waterfront in Kaapstad. Foto: TimesLIVE

Tydens die inperking, is lugdienste gegrond, akkomodasie-eenhede en hotelle is leeg en toerbusse ongebruik. Plesierbote lê gestrand, restaurante is toe, feeste is gekanselleer en wild- en wynplase ontvang geen besoekers nie.

Mosselbayadvertiser.com berig dat groot én klein besighede deur die pandemie geraak word. Baie hotelle, gastehuise en restaurante is klein familiebesighede en het nie ‘n bufferfonds om hulle deur hierdie moeilike tyd te help nie. Baie ondernemings word nou gedwing om personeel te laat gaan of om besighede permanent te sluit. Dit het ‘n enorme impak op die gemeenskap.

Toeriste het op grootskaal verblyf gekanselleer. Hierdie toeriste neem aan ‘n verskeidenheid aktiwiteite op ‘n dorp deel: hulle ondersteun vulstasies, doen inkopies, eet uit en besoek toeriste-aantreklikhede. Sonder toeriste word ieder en elk deur die inperking geraak.  Elke 12 toeriste verskaf werk aan een persoon volgens die Suid-Afrikaanse Toerismeraad. In 2018 was daar 10.5 miljoen internasionale toeriste wat Suid-Afrika besoek het.

Hoe gaan die toerisme-sektor die inperking oorleef? Hoe gaan hulle weer op die been kom? Volgens Radio Laeveld, het die minister van Toerisme, me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, ‘n hulpfonds van R20 miljoen deur die staat beskikbaar gestel om toerisme-besighede in hierdie moeilike tyd finansieel by te staan, sowel as voorsiening vir werksloosheidsversekeringfondse.

Suid-Afrikaners maak reg om meer plaaslike as internasionale gaste te ontvang ná die inperking. Die rede hiervoor is deels omdat almal finansieel geraak word deur die pandemie en reisaanpassings sal moet maak. Gastehuise, hotelle, reservate en toerbusse is dus besig om hul pakette en tariewe te herstruktueer. Suid-Afrikaners word aangemoedig om plaaslike ondernemings te ondersteun deur byvoorbeeld geskenkbewyse te koop wat ná die inperking gebruik kan word asook van restaurante se afleweringsdienste gebruik te maak.

Tog het elke donker wolk ‘n silwer rantjie. Ná enige wêreldkrisis is daar ekomoniese groei. Radio Laeveld voorspel dat dit ook met toerisme die geval behoort te wees. Nadat mense vir maande lank in hul huise vasgevang was, sal hulle graag wil reis, uiteet en besienswaardighede geniet.

Ahoewel wintermaande in Suid-Afrika ‘n stiller tydperk vir besoekers is, gaan die 2020 Covid-19-inperkingstyd ‘n somber winter vir die toerisme-sektor wees. Die effek van die inperking gaan nog vir lank gevoel word. Dit is nie seker wie staande sal wees as die Covid-19 pandemie verby is nie.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

18 + ten =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights