LO-prakties: uitdaging of teleurstelling?

LO-prakties: uitdaging of teleurstelling?


Lewensoriëntering se praktiese komponent (LO-prakties) is ‘n periode wat menige leerders al ‘n moedelose sug laat gee het. Of soms ‘n sug  van verligting laat slaak het.

Dit is ‘n uur wat weekliks dwarsoor Suid-Afrika tydens skoolure gebruik word vir praktiese aktiwiteite soos atletiek, netbal en tennis. Volgens die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleids (NKABV / CAPS)verklaring op education.gov.za is LO se doel om leerders se fisiese welsyn en die kennis van beweging en veiligheid te ontwikkel. Dit wil leerders aanmoedig om aan ‘n wye verskeidenheid van aktiwiteite deel te neem wat met die ontwikkeling van ‘n aktiewe en gesonde leefwyse vereenselwig word.

Dit is beslis ‘n edele inisiatief, maar met afnemende deelname en parmantige leerders, kan die vraag gevra word: Is LO-prakties nog voordelig?

Op mentalfloss.com word daar oor die La Sierra-program geskryf: berug vir sy intensiewe oefeninge en hemelhoë standaarde. Die program het begin in Hoërskool La Sierra, ‘n seunskool, in 1957. Daar was van die seuns in die skool meer verwag as wat daar verwag word van mense wat deesdae by die vlootakademie aansoek doen. Om te sien waarnatoe hierdie seuns in staat was, klik hier.

Die seuns van Hoërskool La Sierra in aksie.
Foto: littlethings.com

Die program was baie gewild en het later versprei na ander skole en het vroulike deelnemers ingesluit. In 1962 het Hoërskool La Sierra die aandag getrek van die destydse Amerikaanse president, John F. Kennedy, wat die fisiese uitdagings van hierdie program as “most important” beskryf het, en verklaar het dat ‘n land slegs so sterk is as sy burgers.

 

Die Amerikaanse burgers se afkeuring van die oorlog teen Vietnam het egter met die sukses van die program ingemeng toe leerders in protes nie hulle LO-klere aangetrek het nie en hulle entoesiasme verloor het.

Die LO-prakties waaraan leerders vandag in Suid-Afrika deelneem, kan beslis nie oor dieselfde kam as die La Sierra-program geskeer word nie. Beteken dit egter dat die huidige LO-praktiese kurrikulum geen voordele het nie?

Netwerk24.com berig dat een uit elke vyf Suid-Afrikaanse tieners probeer om selfdood te pleeg, hoofsaaklik as gevolg van depressie. Terwyl daar geen maklike of vinnige geneesmiddel vir depressie is nie, is fisiese oefening wel ‘n goeie plek om te begin.

Op maroelamedia.co.za word daar geskryf dat fisiese oefening veroorsaak dat die liggaam endorfiene vrystel wat jou goed laat voel. Gereelde oefening kan dus depressie verlig.

So, volgende keer wanneer jy wonder hoekom jy LO-prakties moet doen, onthou die endorfiene. En weet dat dit baie erger kon wees.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

four × 2 =

Voorwaarts Skoolkoerant