Jong redakteurs leer by meesters

Verskeie mense se oggend-roetine lyk waarskynlik so: Koffie in die een hand, Die Burger in die ander. Pa lees die sport, Ma die nuutste “My magtig, Marta!”-storie en oupa speel sudoko.
Wat die meerderheid lesers heel moontlik nie weet nie, is hoeveel beplanning, tyd en geld in so ‘n finale koerant ingaan.
Op 4 Desember 2019 het Voorwaarts-redaksielede, Marlé Oosthuizen (gr. 10), Lian Beukes, Allison Fourie (beide gr. 11) en Suzan Wentzel (gr. 12) Media24 en Novus Print (die rolpers waar Die Burger gedruk word) besoek. Hulle is deur mnr. Stefan Prins (skakelonderwyser van Voorwaarts) en Mia Beukes (oud-Voorwaarts-redaktrise) vergesel.
Mnre. Willem Jordaan (Redakteur van Die Burger) en Johnn-Grant Munro (Uitleghoof van Die Burger) was die redaksielede se gashere vir die dag.
Mnr. Munro het die ontmoeting afgeskop met ‘n leersame aanbieding oor koerantuitlegbeginsels. Sy praatjie was goed toegelig met voorbeelde van goeie voorblaaie en die redaksie het ook verskeie voorblaaie waarvoor hy al internasionale toekennings ontvang het, beskou.
Mnr. Munro is onder andere ook bekend vir sy vermoë om die kern van ‘n berig in ‘n kreatiewe en kort koerantkop saam te vat.
Hy is by vanjaar se Legends-prysuitdeling van Netwerk24 as die beste hoofopskrif- en plakkaatskrywer van die jaar bekroon.
Mnr. Munro het die volgende kosbare video met die redaksie gedeel oor die enorme invloed wat gedrukte media op ‘n gemeenskap kan hê:
Mnr. Willem Jordaan, wat al vir amper 22 jaar by Die Burger werk, het deurlopend insette gelewer en na die tyd vrae beantwoord.
Om 21:00 het die redaksielede Novus Print besoek. Dit is die drukpers in Paarden Eiland wat onder andere Die Burger druk.
Mnr. Wikus Botha, bestuurder van die rolpers, het die redaksielede saam met mnre. Jordaan en Munro op ‘n begeleide toer deur die rolpersaanleg geneem. Hy het elke aspek van die rolpersproses in fyn detail verduidelik.
21:30 is die saktyd waarteen Die Burger na Novus gestuur moet word. Daar word dit so gou as moontlik gedruk met die oog daarop om dit teen 2:00 die oggend afgehandel te hê. 04:15 word Die Burger se daaglikse 42 000 koerante na hul bestemmings vervoer. Die rolpers gebruik sowat 8 rolle herwonne papier per uitgawe van Die Burger. Elke rol weeg 1.2 ton.
Suzan Wentzel, redaktrise van Voorwaarts-skoolkoerant, sê oor die dag: “Dit was ongelooflik! My kop het behoorlik gedraai van al die lekker inligting en idees. Ek is so bly ons het die geleentheid gekry om na oom Willem en oom Johnn te luister. Ek kan nou nie wag om volgende jaar te begin met ‘n nuwe koerant nie. Albei was so goed voorberei en ek het sommer spesiaal gevoel daar in die hoë Media24-gebou. Die rolpers was ‘n eens-in-‘n-leeftyd-ervaring. Ek sal nie weer dieselfde na ‘n koerant kyk nie. En ek sal definitief ook nooit weer toelaat dat iemand Die Burger gebruik om vuur mee te maak nie.”



Ek is mal oor die natuur en diere.
One Reply to “Jong redakteurs leer by meesters”
Dit was ‘n fees! Ek sal môre weer gaan as ons kan 🙂