Nuwe onnie in HSB-midde

Nuwe onnie in HSB-midde


Mnr. Henrico Hunter, Hoërskool Bonnievale se nuwe Afrikaansonderwyser. Foto: Verskaf

Hoërskool Bonnievale se personeel het onlangs verander. Mnr. Henrico Hunter is aan die begin van die tweede kwartaal aangestel. Hy het die leisels oorgeneem by juf. Leana Rodrigues en bied Afrikaans aan vir graad 8 tot 10-leerders.

Mnr. Johan Els, skoolhoof van HSB, is bly oor die nuwe aanstelling. “Ons is baie gelukkig om op so ‘n kort kennisgewing so ‘n ervare en goed gekwalifiseerde onderwyser te kon aanstel. Hy is seker ook die eerste onderwyser ooit wat ná sy aanstelling bykans drie maande gaan skoolhou sonder om sy leerders te sien. Namens die hele Bonnievale-skoolgemeenskap heet ons mnr. Hunter hartlik welkom en glo ons dat hy baie gelukkig hier sal wees.”

Anja du Plessis van Voorwaarts het op 15 Mei 2020 ‘n onderhoud met mnr. Hunter gevoer.

Beskryf Meneer se persoonlikheid in vier woorde.
Eerlik, op-die-man-af, optimisties, semi-sosiaal.

Wat is meneer se gunsteling-herinneringe van Meneer se skooljare?
My vriende, ons hou vandag steeds kontak. En die sporttoere.

Waar het Meneer gaan studeer ná skool en waarom het Meneer spesifiek onderwys as studierigting gekies?
Onderwys was my enigste keuse, ek het vanaf gr. 9/10 begin “klasse” aanbied om kinders te help. Ek neem aan dat ek nooit aan ander opsies gedink het nie. Ek het my B.Ed.-graad deur Unisa voltooi en is tans ook besig met ‘n BA-graad met Afrikaans en Letterkunde as fokusrigting.

Watter doelwitte wil Meneer graag by HSB bereik?
Ek sal graag wil glo dat ek ‘n positiewe invloed op die leerders en die gemeenskap van Bonnievale en HSB kan hê en só my doelwit om jongmense die wêreld in te stuur wat kritiese denke kan volg, sal bereik.

Voordat Meneer by HSB aangestel is, was Meneer ‘n onderwyser by HTS Drostdy. Hoekom het Meneer gekies om die pos by Hoërskool Bonnievale te aanvaar?
Ek jaag nuwe uitdagings na, so groei ‘n persoon. Nadat ek by Drostdy ‘n goeie, suksesvolle loopbaan gehad het, het dit tyd geword om aan te skuif. Hier sal nuwe uitdagings wees, nuwe leergeleenthede, nuwe mense om te leer ken en nuwe groei sal kan plaasvind.

Wat het sover vir Meneer uitgestaan van HSB?
Dit is baie min wat daar in kleiner dorpies steeds skole is wat goed en reg funksioneer en wat ‘n goeie beeld deur middel van die geboue en terrein uitdra. Dit het ek hier ervaar in die een of twee keer wat ek as opvoeder die skool met sport besoek het en dit het my bygebly.

Wat geniet Meneer die meeste van onderwys en wat is vir Meneer die grootste uitdaging?
In onderwys ervaar elke opvoeder die groeiproses van die leerders. Die mooi daarvan is as hulle ná ‘n paar jaar kom inloer en vertel wat hulle vir ‘n lewe doen en hoe hulle (op groot of klein skaal) sukses behaal het. Dis die gedeelte wat ek die meeste geniet. Min mense glo dit, maar alhoewel leerders soms ‘n uitdaging bied, is omgewingsfaktore en ouers van die uitdagings wat ek soms ervaar. So ook die feit dat ek ná my skoolloopbaan nog nooit ophou leer (tersiêre instellings) het nie. Om self te leer, te onderrig, sport af te rig, ‘n huishouding te hê, gedrewe te wees en na jou eie gees om te sien, raak soms baie om te hanteer.

Hoe hanteer Meneer die aanpassing by ‘n nuwe skool, alhoewel die personeel en leerders nie fisies by die skool kan wees op hierdie stadium nie?
Ek glo die pad hiervoor was lank reeds geteer. Die Covid-19-virus kom dus effektief vir die onderwyssisteem as ‘n seën (ek stel dit natuurlik figuurlik voor). Ek is ‘n voorstander van tegnologiegebruik.  Ek glo dat tegnologie in die klaskamer die pad vorentoe is. Die aanpassing is dus nie vir my so erg nie.

Onder die huidige omstandighede, vind Meneer dit moeiliker of makliker om skool te gee, en hoekom?
Ek hou daarvan om die leerders in persoon te kan onderrig, maar effektief gaan ek aan met my onderrigplan. Ons moet tog aanpasbaar wees by ons omstandighede, ek vind dit dus nie moeilik of maklik nie. Hierdie is eerder ‘n nuwe geleentheid om aan ‘n nuwe plan vir effektiewe onderwys te dink en dit uit te voer.

As Meneer ‘n ander loopbaan as onderwys moes kies, wat sou dit wees en waarom?
As ek ‘n ander beroep moes kies, sou dit iets met wedvlugduiwe moes wees. Verkieslik in die groot duiwelande soos België, Duitsland, China, Kuwait of Taiwan.

Waar sien Meneer Meneer oor vyf jaar?
Omdat ek nuwe uitdagings najaag kan ek nie regtig hierdie vraag beantwoord nie. My groot droom bly egter om ‘n vakadviseur, kurrikulum-skrywer of digter te wees. Ek het ook die soeke in my om ‘n hoof van ‘n klein skooltjie of ‘n sukkelende skool te word en die instansie te neem tot sukses.

Laastens, het Meneer enige advies vir die leerders van HSB vir hierdie ongewone omstandighede?
Moet dié (vreemde) tyd nie as ‘n straf of uitdaging beskou nie. Dit moet ‘n geleentheid wees waar jy jouself ontwikkel, die nuwe norm leer ken en begin om daadwerklike planne vir die toekoms te maak.

FLITSFEITE:

  • Gunstelingkleur? Blou
  • Gunsteling-boek?: ‘n Lig in die duisternis (Lynn Austin)
  • Droomvakansiebestemming? Lambertsbaai, maar ons toer graag, enige nuwe bestemming is ‘n droombestemming.
  • Gunsteling-dier? My labrador en wedvlugduiwe.
  • Stokperdjies? Draf, lees, wedvlugduiwe, leer en toer.


One Reply to “Nuwe onnie in HSB-midde”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

three × 3 =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW