Tot weersiens, mnr. Albert

Tot weersiens, mnr. Albert


Mnr. Albert van Zyl

Onderhoud deur Janien de Wet

Mnr. Albert van Zyl (gr. 8-Wiskundeonderwyser en Vakhoof van Wiskundige Geletterdheid) het aan die begin van 2026 na ‘n ander skool geskuif. Hy het vir Janien vertel oor sy tyd by Hoërskool Bonnievale — sy gunstelingdinge om te doen, drome en wat vir hom in die toekoms voorlê.

Watter vak was vir Meneer die lekkerste om by HSB aan te bied, en hoekom?

Ek was nog altyd entoesiasties oor Wiskunde Graad 8 en Wiskundige Geletterdheid Graad 12. Van 2017 tot 2019 het ek ook Graad 9-Wiskunde aangebied, wat ek baie geniet het. Wat ek egter die meeste gaan mis, is beslis Graad 8-Wiskunde.

Watter avonture hou hierdie nuwe lewensreis vir Meneer in?

Ek beweeg vanaf ’n posvlak 2-departementshoof na ’n posvlak 1-onderwyserpos by Laerskool Swellendam. In die somer gaan ek spiesgooi afrig en in die winter by ’n rugbyspan inskakel. Ek gaan ook aansienlik meer vrye tyd hê om aan my stokperdjies en gesin te spandeer.

Wat is een van Meneer se grootste lewenslesse wat Meneer by HSB geleer het?

GETMO – Good Enough To Move On (’n Wysheid van mnr. Valen).

Wat is ’n stokperdjie van Meneer waarvan min mense weet?

Ek hou daarvan om, vir ontspanning, interessante “gourmet”-disse te maak – geregte waarvan ek hou, maar juf. Michelle nie, sodat ek dit self kan opeet!

Wat gaan Meneer die meeste mis van HSB en sy leerders?

Drie goed:

  1. Daardie oomblik wanneer die liggie in die klas aangaan – wanneer leerders wat dae lank nie die werk verstaan het nie, dit skielik snap.
  2. Die grappies en snaakse oomblikke in die klas, wanneer ek iets sê en die hele klas dink ek was doodernstig.
  3. En dan is daar daardie groepie leerders wat altyd daarin geslaag het om my dag op te helder en my te help om my eie probleme vir ’n oomblik te vergeet.

As Meneer een van die skelms was wat die Louvre Museum beroof het, wat sou Meneer eerste met al Meneer se skatte en geld doen?

Die mooiste skilderye sou ek vir myself hou. Die Griekse standbeelde, middeleeuse wapens en klere, manuskripte en Da Vinci se Mona Lisa sou ek in my paleis se ondergrondse museum sit – net vir myself om te geniet. Die juwele sou ek in kleiner dele laat opsny en unieke stukke laat maak om vir juf. Michelle te gee. Die res, wat ek nie wou hê nie, sou ek natuurlik op die swartmark verkoop teen die hoogste bod. Dit kan soms lekker wees om te droom!

As Meneer ’n spesiale horlosie gehad het wat tyd kon terugdraai, watter jaar by HSB sou Meneer wou oordoen – en hoekom?

Die jaar 2022. Dit was die jaar waarin ek die geleentheid gekry het om as Departementshoof by HSB bevorder te word – iets waarop ek baie trots was. Een van my grootste foute was egter dat ek te veel verantwoordelikheid by HSB aanvaar het, terwyl ek juffrou Michelle en Aleks afgeskeep het. Ek het eers in Junie 2023 besef watter skade ek aangerig het, omdat ek my eie ambisie gevolg het eerder as om my gesin eerste te stel. Ek het egter baie geleer daardie jaar, en besef dat sekere dinge gebeur met ’n doel – sodat oë wat toe was, oopgemaak word. Ek is steeds spyt, maar dankbaar vir die les: Geen werksgeleentheid is belangriker as jou eie geestesgesondheid of gesinsverhouding nie. Gelukkig weet ek dit nou.

Mnr. Albert by die HSB Sanlam Swemgala besig om die swemmers af te sit.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

19 − 10 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights