WKOD Wi-Fi laat skole sukkel

WKOD Wi-Fi laat skole sukkel


Die internetwerk wat teen miljoene rande by HSB en ander skole in die Wes-Kaap installeer is werk meestal nie of is te stadig om te gebruik.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se WCGSchools Wi-Fi-netwerk het beoog om die manier waarop leerders toegang tot inligting kry en projekte voltooi te vergemaklik. Die probleem is egter dat, nadat die Wes-Kaapse regering miljoene spandeer het op hierdie Wi-Fi-infrastruktuur by skole, baie personeel en leerders kla dat die spoed so stadig is dat hulle dit nie kan gebruik nie.

Dit wil voorkom of die Wes-Kaapse regering en/of die WKOD baie geld van belastingbetalers op hierdie projek mors.

Dieselfde probleem geld by Hoërskool Bonnievale (HSB). Die skool betaal tans eerder vir privaat internet omdat die WCGSchools Wi-Fi byna onbruikbaar stadig is.

Volgens WKOD-verslae, wat beskikbaar is by politicsweb.co.za wat op 8 November 2023 gepubliseer is, verskaf die netwerk internettoegang vir ongeveer 910 000 leerders in die provinsie.

Die WCGSchools-netwerk is in 2022 by HSB installeer en strek van die laerskool, deur die klubhuis, deur die hoërskool, tot in die koshuis.

Mnr. Stefan Prins, wat in 2022 HSB se skoolhoof was, sê: “Een van die kontrakteurs se tegnici het aan my genoem die installasie van die netwerk by HSB het byna R1 000 000 gekos. Ons kon egter nog nooit die netwerk regtig gebruik nie omdat dit so stadig is. Die ironie is verder dat die WCGSchools-netwerkkabel en ‘n hoë-spoed fibre-konneksie by die skool se hoofingang slegs omtrent twee meter van mekaar af is. Mnr. Gilbert Schroeder (IT-beampte by die WKOD se distrikskantoor) het egter aan my genoem dat dit weens probleme met subkontrakteurs by hoofkantoor nie gekoppel kan word nie.”

Só staan HSB se netwerk van omtrent ‘n miljoen rand dan nou al eintlik drie jaar stil. Volgens mnr. Prins kla feitlik al die ander skoolhoofde waarmee hy al oor die netwerk gepraat het oor dieselfde probleem.

As ‘n mens in ag neem dat daar meer as 1 400 skole in die Wes-Kaap is, raak die koste van hierdie projek waarskynlik massief. Is dit geld wat in die water gegooi is? Voorwaarts het uitgereik na mnre. Donald Lakey en Gilbert Schroeder van die IT-afdeling by die WKOD se distrikskantoor in Worcester. Hulle het egter teen saktyd van hierdie berig nog nie enige antwoorde oor die probleem verskaf nie.

Maliah Bailey (‘n gr. 10-leerder van HSB) sê: “In sekere areas van die skool is die spoed nie so stadig nie, maar leerders kan nie altyd die Wi-Fi gebruik vir dit waarvoor hulle moet nie.”

Voorwaarts het self die WCGSchools Wi-Fi se spoed getoets met Speedtest.net. Die aflaaispoed was 4 Mbps en die oplaai-spoed 2.24 Mbps, wat in vandag se tye, en met so baie mense wat die netwerk moet gebruik, báie stadig is.

Dit is duidelik dat die WCGSchools Wi-Fi ‘n waardevolle idee was, maar duur drome het tot duur teleurstellings gely.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

6 + seven =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights