Sport — die beste medisyne

Sport — die beste medisyne


“Sports not only build better athletes but also better character,” het Julie Foudy — ‘n Olimpiese gouemedalje-wenner en afgetrede FIFA-vrouewêreldbekerkampioen — gesê.

Deaqon Lottering (gr.12) stel goed-voel-hormone tydens ‘n onlangse rugby-oefening vry. Foto: Alicha la Grange

Daar is geen twyfel dat sport ongelooflik voordelig is nie. Dit is ‘n bewese de-stressor omdat dit jou dwing om ten volle op die taak te fokus en laat sodoende gedagtes en bekommernisse wat jy dalk vooraf gehad het, agter.

Sport stimuleer die vrystelling van endorfiene, jou liggaam se natuurlike goed-voel-hormoon. Deur sport te speel kry jy ook ‘n beter nagrus. Baie van ons lê soms ‘n bietjie te laat en loer op Instagram of TikTok, maar ná ‘n dag van jouself fiesies uitput, skakel jou ligaam baie makliker af.

Sport gee kinders beide die kans om hulself uit te leef in iets wat hulle geniet en ook om terselfdertyd belangrike lewenslesse te leer.

Skole.co.za sê daar sal in sport soms tye kom waar humeure getoets gaan word, maar ook tye van baie vreugde. Daar word ook gestel dat belangrike lewenslesse geleer kan word wanneer daar ‘n balans tussen die twee emosies geskep word. Boonop dien sport as uitlaatklep in tye waar emosies oorkook.

Spanwerk onder netbalmeisies van HSB. Sport veroorsaak onder andere dat mense beter slaap. Foto: Alicha la Grange

Om saam met ander ‘n sport te beoefen leer ons ook die waarde van spanwerk. Dit help om leiervaardighede te ontwikkel wat op alle lewensterreine toegepas kan word.

Beyondblue stel voor dat spansport jou ook leer om terugslae te hanteer. Hulle stel ook voor dat dit jou kan help om die hantering van verlies of swak prestasies te verbeter. Hierdie vaardigheid kan jou in die alledaagse lewe help om deur moeilike tye te navigeer en ‘n weg daardeur te vind.

Partykeer voel dit of jy ‘n ruskans nodig het of dat jy jou brein moet afskakel om van ‘n stresvolle toets te vergeet. Sport en die goed-voel-dwelm wat so verslawend is, is ‘n oplossing. Dus, in die toekoms, wanneer jy voel jou emosies kook oor, stof jou tekkies af en kry ‘n goeie sweetsessie agter die rug!


One Reply to “Sport — die beste medisyne”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

18 − four =

Voorwaarts Skoolkoerant