Afrikaans pas nie in uurglas

Afrikaans pas nie in uurglas


Die uurglas

Glibberig die glas van tyd
en sand wat meedoënloos afwaarts gly
die sand sy greep op glas verloor
en val
finaal.
Daar sterf ‘n taal.

-Anoniem


Loop Afrikaans se uurglas werklik leeg?

In die vrugbare grond van Afrikaans, is daar daagliks nuutskeppinge wat spontaan ontkiem. Volgens die onlangse 6de uitgawe van die HAT van 2015, was daar in tien jaar ‘n aanwas van sowat 700 000 Afrikaanse woorde. Dit is ‘n 40% toename en bring Afrikaans op ‘n totaal met 2,1 miljoen woorde.  Vir elke Engelse woord in die Oxford English Dictionary, is daar 12 Afrikaanse woorde in die HAT.

Afrikaans groei geografies op voetsoolvlak. Volgens Maroela Media se artikel van 16 Oktober 2015, wys sensus-statistieke dat Afrikaans as huistaal volpunte kry. Sonder uitsondering is daar in al nege provinsies ‘n verrassende groei in die gebruik van Afrikaans deur Jan Alleman.

Verder, volgens hedendaagse definisie, is Afrikaans ‘n oorwegend bruin taal. Dr. Danny Titus, die ATKV se uitvoerende direkteur, het op e-nuus van 5 Februarie 2018 die openbarende statistieke uitgespel:

Van Afrikaanssprekendes is 50% bruin, 40% wit, 9% swart en 1% Indiër.

Die nostalgieskrywer, Dana Snyman, word onder die opskrif Storiesendeling op afrikaans.com aangehaal: “Die beste manier om vir Afrikaans te veg, is om die taal met respek te gebruik.”

Gedagtig aan die uurglas, haal ek aan uit Ingrid Jonker, se gedig, “Korreltjie Sand:

Korreltjie korreltjie sand
Korreltjie klein is my woord
Korreltjie niks is my dood.

Afrikaans is bloedjonk. Afrikaans is viriel. Afrikaans is lewenskragtig.


One Reply to “Afrikaans pas nie in uurglas”

  1. Sjoe! Marianne dit is nou ‘n amazing berig wat rerig my aandag getrek het. 😀

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

14 − 3 =

Voorwaarts Skoolkoerant