Demi Lee Moore steel talle Afrikaanse harte

Demi Lee Moore steel talle Afrikaanse harte


Demi Lee Moore tydens haar optrede op die Afrikaans Is Groot-verhoog. Foto: Maroela Media. Foto: Verskaf

Voorwaarts-skoolkoerant van Hoërskool Bonnievale het met Demi Lee Moore gesels. Sy is die wenner van ‘n splinternuwe VIA-reeks, Die Kontrak. Haar wenprys is ‘n platekontrak ter waarde van R1 miljoen by Coleske Artists. Sy het op 14 November 2018 haar debuutalbum, Mis Eet Slaap Herhaal, uitgebring.

Demi Lee, aan watter kulturele aktiwiteite het jy op skool deelgeneem?
Ek was glad nie baie sportief nie, so ek het gereeld aan al die kulturele aktiwiteite deelgeneem. Kultuuraande, revues en drama was dinge waaraan ek my vrye tyd bestee het.

Wat omtrent Die Kontrak het vir jou die meeste uitgestaan?
Die Kontrak was ‘n ongelooflike ondervinding! Alles was so lekker. Maar die lekkerste vir my was die geleentheid en uitdaging om elke week iemand anders se liedjie te vat en dit my eie te maak.

Hoekom het jy besluit om vir Die Kontrak in te skryf?
Ek sing al vir tien jaar voltyds en ek was baie gelukkig om altyd werk te hê, maar ek wou meer hê. Ek wou in die Afrikaanse mark wees met my eie liedjies en ek wou gehore daar buite inspireer met my storie. Die Kontrak was die beste platform om my net daai laaste hupstoot te gee.

Demi Lee met haar Die Kontrak t-hemp aan. Foto: Instagram

Noem die twee grootste dinge wat verander het in jou lewe ná Die Kontrak?
Alles het verander. Ek is onmenslik besig en dit is seker die grootste seën.

Hoe ervaar jy Suid-Afrikaanse gehore?
Suid-Afrika se gehore is ongelooflik ondersteunend. Hulle koop CD’s en hulle sal ná elke vertoning na jou toe kom om jou te ondersteun. Dis vreeslik lekker om te weet hoe baie mense my musiek nou geniet!

Waaruit het jy die meeste inspirasie geput vir jou eerste album, Mis Eet Slaap Herhaal?
Die hele album is die pad wat ek met Die Kontrak gestap het. Dit is lekker dat dit vasgevang is op ‘n album met nog vier oorspronklike liedjies. My inspirasie kom maar uit persoonlike ondervindings en hoe om dit oor te vertel met my musiek.

Wat was jou gunstelingoptrede op die kontrak?
Verseker die aand van “Diane” en “Somebody to Love”!

Kyk na Demi Lee se optrede saam met Monique Steyn:

Wat is jou gunstelingliedjie (uit jou oorspronklike liedjies) op jou nuwe album en hoekom?
“Mis Eet Slaap Herhaal” is vir my ongelooflik spesiaal, maar my gunsteling is “Ek is hier”. Die liedjie praat spesifiek oor alles waardeur ek gegaan het die laaste tien jaar, al die “nee’s” en teleurstellings, maar hoe dinge beter geraak het en nou is ek hier. Dit is baie inspirerend.

Demi Lee se album: Mis Eet Slaap Herhaal. Foto: Deezer

Jou video van “Mis Eet Slaap Herhaal”, asook jou en Steve Hofmeyr se weergawe van “Amanda”, is beide meer as een miljoen keer op YouTube gekyk. Het jy ooit gedink dit sou so ‘n sukses wees en hoe voel jy hieroor?
Dit bly ONGELOOFLIK. Ek sou nooit kon droom dat ‘Amanda’ en ‘Mis Eet Slaap Herhaal’ beide so suksesvol sou wees nie! Dit is natuurlik ‘n droom wat waar geword het en ek is so dankbaar.

Kyk die video’s hier: Mis Eet Slaap HerhaalAmanda

Toe jy as die wenner van Die Kontrak aangekondig is, moes dit baie oorweldigend wees. Wat het alles deur jou kop gemaal op daardie oomblik?
Ek het net daar besef dat my grootste droom waar geword het. Ek wou heeltyd huil, maar ek kon nie, want ek moes dadelik gesing het. Om voor 9000 mense te staan en besef alles waarvaan jy gedroom het, het sopas waar geword was die beste gevoel en die beste oomblik van my hele lewe.

Herleef Demi Lee se wenoomblik:

Hoe het jy dit reggekry om direk hierna op Afrikaans is Groot se verhoog te sing?
Ek weet nie, dit was net die Here se genade! Ek berei al so lank voor vir die oomblik, ek het net gedink “Nou moet jy síng”.

Watter spesiale planne het jy vir 2019 waarna ons kan uitsien?
Ek is so gelukkig dat ek die hele Suid-Afrika gaan plat toer, soveel plekke sien en nuwe mense ontmoet! Ek trek ook Pretoria toe so ek is vreeslik opgewonde vir die nuwe begin.

Hoe sal jy jou musiekgenre beskryf?
Ek het ‘n groot liefde vir Country. My musiek is op die oomblik Pop, maar ons gaan vir my volgende album meer Pop- Country gaan.

Demi Lee gaan onder andere vanjaar by Country Is Groot optree. Foto: Instagram

Is jy deel van ‘n liefdadigheisprojek?
Ek is deel van Helpende Hand wat help om kos op die tafel te sit vir kinders wat niks het nie.

Kitsvrae:

Wat laat jou die meeste lag?
Barthlo.

Van watter ouderdom af sing jy al?
Vandat ek nege jaar oud is.

Ongeveer hoeveel Instagram DM’s kry jy weekliks?
Haha! Ek kry daagliks báie.

Wat is die top drie dinge op jou bucket list?
1. Om nog ‘n album te maak.
2. Nashville toe te gaan.
3. Nog’ n liedjie saam met Steve op te neem.

Saam met wie sal jy nog graag wil sing?
Riana Nel


5 Replies to “Demi Lee Moore steel talle Afrikaanse harte”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

2 × five =

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW