Lakers treur oor Black Mamba

Lakers treur oor Black Mamba


Kobe Bryant speel sy laaste wedstryd voor hy aftree.
Kobe Bryant speel sy laaste wedstryd voor hy uit professionele basketbal getree het. Foto: Essence

Die legendariese basketbalspeler van die VSA, Kobe Bryant, is op 26 Januarie 2020 tragies in ‘n helikopterongeluk oorlede.

Kobe Bean Bryant was ‘n Amerikaanse professionele basketbalspeler, alombekend as ‘Black Mamba’. Sy posisie in die span was ‘n skietwag en hy het direk ná hoërskool by die National Basketball Association (NBA) aangesluit. Hy het sy professionele loopbaan in die twintigste seisoen in die liga saam met die Los Angeles Lakers gespeel.

Kobe Bryant is op 26 Januarie 2020 in ‘n helikopterongeluk in Calabasas, Kalifornië oorlede. Die helikopter het teen die kant van ‘n berg in Calabasas, ongeveer 48 kilometer noordwes van Los Angeles, neergestort en aan die brand geslaan.

Bryant en sy dogter, Gianna Bryant, asook sewe ander insittendes, is oorlede. Dit was sy privaat-helikopter.

Personeel van die brandweer in Los Angeles County en paramedici het die helikopter op die toneel oopgekap om na oorlewendes te soek. Die brand was moeilik om te blus as gevolg van die teenwoordigheid van magnesium, maar die vuur is wel later geblus.

Aanvanklike verslae het aangedui dat die helikopter in swaar mis in die heuwels bokant Calabasas neergestort het. Getuies het berig dat die helikopter gesukkel het voordat hulle neergestort het.

Bryant is een van die grootste spelers in die geskiedenis van die NBA en die New York Times skryf dat hy een van die suksesvolste loopbane in die geskiedenis van die sport gehad het met ‘n beraamde nettowaarde van $500 miljoen. Dit was ‘n tragiese einde vir die basketbalspeler Kobe Bryant en sy dogter, wat wêreldwyd in ondersteuners se harte ingekruip het.

Biografie:

Bryant is op 28 Augustus 1978 in Philadelphia (VSA) gebore, as die jongste van drie kinders en enigste seun van die voormalige NBA-speler Joe Bryant en Pamela Cox Bryant.  Sy middelnaam, Bean, is afgelei van sy pa se bynaam “Jellybean”.

Bryant het begin basketbal speel op die ouderdom van drie en die Lakers was sy gunstelingspan terwyl hy grootgeword het. Hy het tot op 6-jarige ouderdom in Philadelphia gebly waarna die gesin na Rieti in Italië verhuis het. In 1991 het hulle teruggekeer na Philadelphia en het hy skool gegaan in Lower Merion High School vir sy junior en senior jare. Bryant se familie was Katoliek en hy het getrou sy geloof beoefen.

Gedurende sy junior skooljaar is Bryant aangewys as Pennsylvania se speler van die jaar, terwyl hy ook ‘n vierde span All-American nominasie verdien het. Hy het ‘n nasionale erkenning tydens ‘n skouspelagtige hoërskoolloopbaan aan die Lower Merion High School in Ardmore, in die Philadelphia-voorstad Lower Merion, verdien. Bryant het verskeie toekennings ontvang vir sy uitmuntende prestasies gedurende sy senior jaar by Lower Merion.

Kobe Bean Bryant en sy dogter, Gianna Maria-Onore Bryant. Foto: UPnewsinfo

Op die ouderdom van 17 het hy besluit om  by die NBA aan te sluit en was slegs die sesde speler in die NBA-geskiedenis wat dit op daardie ouderdom reggekry het.  Hy was die eerste skietwag wat regstreeks uit die hoërskool aangestel is.

Aangesien Bryant destyds net 17 was, moes sy ouers sy kontrak met die Lakers onderteken totdat hy in staat was om dit self te onderteken op die ouderdom van 18. Bryant het ‘n drie-jaar-kontrak ter waarde van $3,5 miljoen onderteken.

Hy was destyds die jongste speler wat ooit in ‘n NBA-wedstryd gespeel het. Tydens die All-Star-naweek het Bryant aan die Rookie Kompetisie deelgeneem en die Slam Dunk-kompetisie in 1997 gewen, waar hy op 18-jarige ouderdom die jongste dunk-kampioen geword het.

Bryant het in 2001 met Vanessa Laine getrou. Op 34-jarige ouderdom word Bryant die jongste speler in die liga-geskiedenis wat 30 000 loopbaanpunte bereik het.

Op 1 Februarie 2010 is hy aangewys as die beste puntemaker in die geskiedenis van die Lakers. Dit was ‘n fenomenale prestasie.

Hy het in 2016 uitgetree ná ‘n baie suksesvolle loopbaan.

Sy stokperdjies was sokker, reis en om tyd met familie en vriende deur te bring.

Hy was ook in ‘n musiekgroep met die naam CHEIZAW.


One Reply to “Lakers treur oor Black Mamba”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

ten − 4 =

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW