Spoegwolf: D-mineur op 4

Spoegwolf: D-mineur op 4


Ek sit een Saterdagaand in my sitkamer en luister na Spoegwolf se nuwe album, hoe ironies.

Uit die bloute kry ek ‘n kennisgewing op my foon wat lees: Albert_vuurwolf sent you a message. Ek het vroeër vir hom ‘n boodskap gestuur, nie dat ek gedink het hy sou antwoord nie (oor dié einste berig) en gevra of hy ‘n opiniestuk sal skryf. Enigiemand wat my ken weet dat ek my linkerbeen sal gee vir Spoegwolf. Dus was my eerste reaksie om absoluut almal wat wil luister te vertel. Nadat ek ‘n bietjie kalmeer het, het ek hom uiteindelik geantwoord – en die bal was aan die rol.

Die volgende is dan geskryf deur Albert van der Merwe, beter bekend as Albert Vuurwolf. Hy skryf oor Spoegwolf se eerste konsert in Stellenbosch:

Albert van der merwe voor die bekendstelling van Spoegwolf se nuutste album, See

Aandklas is altyd iets om te beleef. Dis meer ’n gehoor wat na ’n band kom luister as die gebou self en almal in dit wat saam tot in ’n rock & roll-beswyming dans. Die energie vloei soos weerlig deur die hele plek se bedrading en ek is seker dit het ’n paar straatligte uitgeblaas.

Ons eerste Aandklas-show was die begin van ‘n wilde tradisie – ‘n ritueel, ‘n rite of passage. Ons eerste show in Stellenbosch, die geboorteplek van die ware, unadulterrated Spoegwolf. Rou, rowwe rock & roll, eerlik, in Afrikaans. Vier jong mans wat hul harte op die verhoog uitstort in Stellenbosch se gunsteling-live music venue.

Ten Rand gets you in.

Danie was altyd die beste in boomklim. Toe ek en hy kinders was, was ons die tweeman-bende wat Paarlberg platgeboer het. Ons het teen rotse en bome opgeklim, uitgekyk oor die vallei en dan weer voluit by die bergfiets- en voetpaaie afgehardloop tot in Bo Non-parreillestraat. Wie sou gedink het dat selfs dít ‘n deel van ons leerskool vir die bandlewe kon wees? It definitely came in handy. Eers toe Danie in die boomtakke bo De Kaggel se buitetafels gehang het met sy bekfluitjie om die aand se gaste te serenade, en weer in hierdie oomblik, op die Dinsdagaand voor ons eerste Spoegwolf show in Stellenbosch.

“Hou gou hierdie posters vas en dan gee jy dit aan as ek bo is.”

Danie het die grootste akkerboom in Victoriastraat geklim en aan elke tak ‘n poster opgehang. Dit was die begin van nog ‘n nuwe tradisie. Ons sit as ‘n gesin ons Aandklas-posters op. Orals waar ‘n poster nie moet gaan nie. It is the way of the Spoegwolf. Teen Woensdagoggend was die hele kampus toe onder die posters. Sulke groot, geel posters met duidelike swart teks. No funny stuff. Futura Extra Bold.

“Almal se posters is so vrek besig dat ‘n mens nie eers meer weet wat hulle adverteer nie. Ek dink ons maak ‘n duidelike indruk met ‘n helder boodskap, sonder fancy design tricks. Net die bare essentials.”

Ons skoon, geel posters het soos neon pyle bo die mengelmoes van kampusadvertensies uitgestaan. Danie het ‘n goeie oog gehad. Dis seker wat ‘n mens kry as jy op dertien al begin “flyer” het vir Ysterkoei-shows in die Ou Meulteater. Oornag het ons sentrale Stellenbosch, van Irene tot by die Ou Hoofgebou, in een groot Spoegwolf ad verander. Op daai Woensdag was die Rooiplein geel. Die dorp is goed genoeg gewaarsku dat ‘n storm daar sou tref.

(ek is nie bang vir hierdie mense nie)

‘n Mens stort anders op die oggend van ‘n Aandklas-show. Jy vang so ‘n helder oomblik, waar dit alles deel word van die ritueel. As jy tandeborsel, of jou hemp stryk, of jou veters vasmaak, is dit als al klaar die oomblik voor daai eerste bang – die D-mineur in Loerie waar die ligte slaan, die speakers boom en al die mense begin saamspring.

Ons kry mekaar gewoonlik kwart oor vier vir soundcheck by die bar. Moskou het nog in sy skoolklere by daai eerste Aandklas opgedaag. Hy was die jongste én die oudste, as jy vang wat ek bedoel.

Ons het in daai dae al ons eie amps en dromme saamgedra. Dit was baie moeite, maar dit het ons sterk gemaak en dit was makliker om seker te maak dat al die instrumente reg sou klink op die aand, soos dit geklink het by ons oefensessies. Sonder om aansoot te wil gee kan ‘n mens nie altyd bar-backline vertrou nie. Aandklas was en is waarskynlik steeds bekend daarvoor dat drummers wat daar deurkom altyd klein maar belangrike stukkies van die dromstel-hardware in hul sak sou steek op pad uit. So loop die lewe van ‘n rockband in die Kaap.

Ons kry ons laaste oefening in by soundcheck, totdat die ander bands for real begin geïrriteerd raak, en dan gaan trek ons laer om die hoektafel, met ‘n pizza en ‘n bier, om saam te sweer terwyl die mense stadig maar seker begin inkom. Die beste posisie om te kyk hoe doen die opening bands.

‘n Plakkaat van een van die vele Spoegwolf-konserte by Aandklas, ‘n musiekklub en kroeg in Stellenbosch Foto: Verskaf

Deur die jare het ons saam met baie ander local bands gespeel. Daar was the Wheel Again, Slagyster, Jackal and the Wind, Red Sheep, Die Skynmaagde, Herman Kleinhans en nog meer. Dans Dans Lisa, die accoustic power-pop duo waarin Bouwer Bosch en Deon Mering saam gespeel het, het selfs een keer ‘n surprise show by ons Aandklas-gig kom doen. Dit is ‘n fees om deel te wees van ‘n gemeenskap in musiek.

Voor elke keer wat ons gaan optree maak ons eers ‘n kringetjie backstage. In Aandklas se geval is dit ‘n kelder met ‘n lae plafon wat meestal as ‘n stoorkamer vir die in-house gear slash ‘n local musikante lost & found benut word. Ons noem dit die Dungeon.

“Aan die lig wat in alles is: dankie vir die lig wat in ons is …”

Ons warm op, sluk ons Red Bull, doen ‘n kring-gebed. Moskou lei ons in “A Man of Constant Sorrow”. Soos die ander band se laaste note uitdring, staan ons veggereed. ‘n Laaste check around the Dungeon, ‘n laaste knik voor die verhoog.

“We can do this, manne!” sê Danie, met sy een vuis in die lug. “Op die koninkryk!”

Die ligte skyn. Die mense skree. Ons hou ‘n D-mineur op 4.

“Is julle reg hiervoor?” vra Danie, soos ‘n spankaptein op Nuweland. Ons maak ‘n kring op die verhoog, met ons rug na die gehoor, en begin tel tot by daai eerste bang.

“Hey!”

(Daar is ‘n loerie in die boom en ‘n meisie in die stroom…)

                                                                         Luister hier na “Loerie” deur Spoegwolf:

Die crowd ontplof. Ons het omtrent ‘n honderd ekstra mense ingelaat nádat die plek al klaar te vol was. ‘n Rekordgetal vir Aandklas, soos ek dit verstaan. Dit was verskriklik, op die heel beste manier.

Ons gee ons harte vir die musiek, met elke druppel sweet wat oor is.

Spoegwolf wat optree by O.R. Tambo Internasionale Lughawe
V.l.n.r.: Danie du Toit (sang, kitaar, klavier), Albert van der Merwe (baskitaar, sang, rymklets). Foto: Verskaf

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

1 − one =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights