Skool-taskenades

Skool-taskenades


Partykeer is jou oplossing nie so slim as wat jy gedink het dit is nie. Grafika: Journalistemn

In sy kanon in. Kas toe. Nie meer in die land van die funksionerendes nie.

Dis maar net ‘n paar woorde waarmee ek die toestand van my skooltas kan beskryf. Ja, liewe leser, dis die begin van 2019 en ek is in die moeilikheid.

Ek is ‘n persoon wat daarvan hou om doelwitte  vir myself te stel. Die meeste van die tyd werk dinge goed uit en kan ek met tevredenheid verklaar dat ek die wa deur die drif getrek het. Dalk was die rede vir my vorige suksesse die feit dat die SMART-doelwitstelling êrens in my onderbewussyn ingegraveer was na ‘n paar LO-klasse.

Die SMART-metode om jou doelwitte te stel is om te verseker dat jou doelwitte:

  1. spesifiek is,
  2. gemeet kan word,
  3. bereikbaar is,
  4. relevant is en
  5. gekoppel is aan tyd.

Dit blyk dat die doelwit wat ek aan myself in die Desembervakansie van 2018 gestel het, naamlik om my skooltas van die afgelope vyf jaar tot aan die einde van matriek te gebruik, nie so SMART is as wat ek gedink het dit is nie. Die ritssluiter se handvatsel is af, die ritssluiter self kan nou net vir my plesier op en af getrek word sonder om my tas toe te maak en daar is ‘n skeur wat my herinner aan die verwoesting van ‘n aardbewing.

As ek gedink het mense kyk my snaaks aan omdat ek ‘n wieletjiestas in graad 11 het, is ek verkeerd. (Ons kyk maar wie lag die laaste in terme van rugprobleme.) As mense my enigsins snaaks gaan aankyk, gaan dit wees omdat ek diesélfde wieletjiestas in graad 11 het as wat ek in graad 6 gehad het.

Die punt is? As jy ‘n doelwit vir jouself gaan stel, beter jy seker maak jy het wat jy nodig het. Anders gaan jy met die gebakte pere sit.

Ns. Natuurlik is jy welkom om steeds aan te ploeter nadat jy jou fout besef het. Ek bedoel, wie het in hulle graad 11-jaar tyd om ‘n nuwe tas te koop? Die wêreld het nie net slim mense nodig nie, maar hardekoppe ook.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

5 × three =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights