Oudleerders koester herinneringe

HSB-oudleerders, Adia Willemse (2016 in matriek) en Bea Wentzel (2013 in matriek), het vir Voorwaarts briewe geskyf waarin hulle vertel wat hulle altyd van Hoërskool Bonnievale (HSB) sal onthou en wat hulle mis.
Bea
Ek het in 2013 as ‘n Bonnie matrikuleer. Ek is nou al langer uit die skool uit as wat my hoërskooljare lank was…
Ek sal altyd die afhardloop pad toe vir die skoolbus onthou en hoe ons op die “grootkinders” se skoolhemde kon skryf op hulle laaste dag.
Die beste deel was hoe die onderwysers en jou klasmaats ná 12 jaar soos familie gevoel het. Ek moes tot in matriek nog plaatkoek neem vir my verjaarsdag, anders was my “familie” te ontsteld!
Ek mis: die tennisbussie na weg-wedstryde, juf. Marina se geselsies tydens klavierlesse en Afrikaansklasse waarin mnr. Prins die taal so lewendig gehou het.
HSB was nie my goue jare waarna ek terugkyk met verlange en heimwee in my hart nie, maar dit was ‘n belangrike spoor in my lewensleer waarsonder ek nie hoër sou kon klim nie.
Adia
Ek kan nie glo dat ek drie jaar gelede deur die goue hek van Hoërskool Bonnievale gestap het na die grootmenswêreld hierbuite nie. My skooldae voel so ver terug, maar tog kan ek dit onthou asof dit gister was.
Ek mis die skoolsport verskriklik baie. Ek het in my eerste en tweede jaar netbal gespeel vir die kampus, maar dit kom nie naby HSB se sportdae nie. Ongelukkig het ek verlede jaar my knie beseer tydens ‘n wedstryd. Ek moes twee operasies ondergaan en ek sal nooit weer netbal kan speel nie.
Ek mis die taal ook baie. Dit was ‘n reuse aanpassing om lesings in Engels te ontvang.
By HSB was ek in ‘n omgewing waar almal meestal dieselfde kultuur gehad het en ‘n liefde vir Afrikaans gedeel het. Hier op kampus is daar soveel verskillende mense en die diversiteit is pragtig, maar dit voel soms asof ek my taal langs die pad verloor.

Ek is ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Tussen my familie en naaste vriende is ek op my gelukkigste. Ek is mal oor uitdagings en ek is baie lief vir my moedertaal.