Verpligte nagmerrie

Dreaming of Light
Genre: Drama
En die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum het gesê dat die opkomende burgers van die land kultuur benodig in die vorm van boeke. En dat Dreaming of Light een van die verpligte gr. 11-Engels leesboeke sal wees. Toe sug ‘n hele generasie.
Dreaming of Light is geskryf deur Jayne Bauling en oorspronklik in 2012 gepubliseer. Dit is ‘n wenner van ‘n Goue Sanlam Prys vir Jeugletterkunde in 2011 en ingesluit by die Internasionale Paneel oor Boeke vir Jongmense se erelys vir 2014.
Die boek is aan die dunnerige kant, omtrent 107 bladsye lank en handel oor onwettige mynwerkers (zama zama’s) wat hulself probeer bevry.
Dreaming of Light vermy humor en die teenwoordige tydgebruik. Tesame met die oorvloed vergelykings laat dit die storie lomp voel.
Die boek is op ‘n onkonvensionele manier geskryf. Die meeste boeke word uit die oogpunt van die protagonis geskryf. Dit wil sê die persoon wat die belangrike keuses maak in die verhaal en só die intrige bepaal. Dreaming of Light word egter uit die oogpunt van een van die agtergrondkarakters geskryf. Hierdie skryftegniek verskuif die fokus van die storie weg van die grootste bron konflik en bied geen sigbare voordeel nie.
Die fokalisator is Regile, hy is agtien en ‘n vertroude zama zama. Hy kies om ‘n zama zama te bly omdat hy nie hoop het vir ‘n beter lewe nie. Hy is nie ‘n slegte karakter nie, net heeltemal onnodig vir die storie se ontwikkeling.
Dan is daar Taiba. Hy hou homself besig deur sy vriend te probeer red, die belangrike karakters te beïnvloed en die intrige te bepaal. Hy is die protagonis, maar jy sal vergewe word as jy dit nie agtergekom het nie weens die voorafgenoemde skryftegniek.
Die uiteindelike produk is ‘n storie wat maak asof dit oor een ding gaan terwyl dit eintlik oor iets anders gaan. Ek sal die boek nie vir enige iemand aanbeveel nie en wens al sy toekomstige slagoffers voorspoed toe.

Ek hou nie daarvan om inligting, persoonlik of nie, oor die internet te deel nie.