Mini-gholfdag slaan raak
Hoërskool Bonnievale (HSB) se jaarlikse mini-gholfdag is vanjaar op 7 Maart 2020 te midde van snikhete temperature gehou. Dit was weer ‘n suksesvolle dag vol opwinding en baie pryse.

Die gholfdag was hoofsaaklik ‘n fondsinsameling vir HSB se koshuis, Huis Kalie Heese, en ‘n deel gaan ook na die skool.
Verskeie projekte word hieruit befonds. In die verlede is daar byvoorbeeld nuwe matrasse en gordyne vir die koshuis aangekoop. Die eetsaal is ook al geverf en verfraai. Hierdie jaar se projekte sluit in spanbou-aktiwiteite en nuwe t-hemde vir elke koshuisleerder.
‘n Gedeelte van die geld gaan dan ook vir die HSB-diskresionêre fonds wat deur mnr. Johan Els (skoolhoof van HSB) beheer word. Hierdie fonds kan aangewend word volgens mnr. Els se eie diskresie, soos wanneer ekstra vervoer na sportbyeenkomste benodig word en ‘n bus gehuur moet word of die een of ander onbeplande uitgawe dringend aangegaan moet word.
Die hoofborg van die mini-gholfdag was Van Loveren, wat ‘n bedrag van R8000 sowel as al die pryse geborg het. Daar het ook 40 ander besigheidsborge elkeen ‘n putjie van R1500 geborg.
Daar was altesaam 104 spelers, wat beskou word as ‘n uitstekende opkoms. Die deelnemers het uit 26 spanne met vier spelers per span bestaan.

Die dag is afgesluit met ‘n gelukkige trekking wat bepaal het wie met watter prys huis toe gegaan het.
Volgens mnr. Koos Wentzel (hooforganiseerder) was die grootste werk om vooraf borge te kry en dan ook om die gholfbaan te omskep in ‘n mini-gholfbaan. Sy mening: “Die dag was ‘n reuse sukses, omdat daar baie goeie fondse genereer is, waarvoor ons baie dankbaar is. Dit is ook ‘n lekker gesellige dag wat dit gewild maak onder nie-gholfspelers, omdat dit ‘n kort formaat van speel is. Daar sal definitief weer so ‘n dag gehou word.”
Hierdie dag is jaarliks veral gewild onder nie-gholfspelers omdat dit ‘n lekker informele gholfdag is. Wat dit uniek maak, is dat daar net met twee gholfstokke gespeel word, met ‘n maksimum van ses houe per putjie. Die bestaande gholfbaan word tydelik omskep in ‘n mini-gholfbaan deurdat addisionele putjies bygevoeg word. Een rondte se spel kan in twee uur afgehandel word.
![]()

Ek hou daarvan om te dans, te lees en na musiek te luister.
3 Replies to “Mini-gholfdag slaan raak”
Ek hou van die skakels?
Oulike opskrif Marlé!
Goed geskryf 🙂