Wat soek jy?: Verlore items by HSB

Wat soek jy?: Verlore items by HSB


Items wat sover hierdie jaar verlore gegaan het. Foto: Christiaan de Wet

Die skoolklok lui. Dit is die einde van die skooldag en die leerders stroom by die hekke uit. Die skool lyk verlate, maar tog is die skoolterrein alles behalwe leeg. In ‘n boom hang ‘n vergete sweetpakbaadjie, ‘n sportsak en kosblik lê voor ‘n klas, ‘n trui op ‘n bankie en een skoolskoen voor in ‘n skoolbussie… om net ‘n paar van die items te noem.

My ma het vroeg verlede jaar ‘n spesiale inligtingsessie van die graad 8’s bygewoon en tot haar verbasing vind sy ‘n gemerkte handdoek wat ‘n jaar gelede deur een van ons gesinslede “verloor” is onder die bank waar sy sit.

Ná hierdie insident wou ek weet hoeveel goed gaan elke jaar by die skool verlore en hoeveel geld in die proses vermors word wanneer die items nie opgeëis word nie.

Ek het by twee van ons laerskoolonderwysers gaan aanklop vir statistiek oor verlore goed in die laerskool. Volgens juf. Githe van Loggerenberg (Wiskunde) is die drie dinge wat skoolkinders die meeste vergeet (behalwe nou vir huiswerk) die volgende:

  • skryfbehoeftes
  • skooltruie
  • en baaaaaie kosblikke

Verlore skryfbehoeftes en kosblikke word omtrent ses uit tien keer terugbesorg aan die regmatige eienaars, terwyl 85% van verlore skoolklere weer opgeëis word.

Alle verlore items wat ná een kwartaal nie opgeëis word nie, word deur die Skoolkas (HSB se amptelike klereverskaffer) teen afslagpryse verkoop, ten bate van die skool. Sommige kwartale maak die verlore goed ‘n stewige vier kartonbokse vol teen die tyd dat dit na die skoolkas gestuur word vir verkope.

Volgens ‘n breedvoerige Amerikaanse opname deur getpixie.com, spandeer Amerikaners ‘n geskatte $2.7 miljard om verlore goed terug te koop. Daar word ook beweer dat 69% van mense vind ‘n ou, verlore item terwyl hulle vir ‘n ander spesifieke item soek.

Is daar dalk ‘n paar basiese dinge wat leerders kan doen om te voorkom dat hulle deel vorm van die verlore items-statistieke by HSB? Volgens juffrou Karlien Oosthuizen (gr. 1-onderwyser) is daar twee dinge wat uitstaan soos pale bo water:

  1. “Die grootste probleem is dat klere nie gemerk word nie. Maak seker jou klere en kosblik is gemerk”.
  2. “Stry teen die impuls van die skuld vir iemand anders gee. Leerders sal vas glo iemand het hulle goed gesteel, net om die ‘gesteelde’ item ‘n week later onder hulle eie bank te vind. Gaan soek eers voor jy iemand anders blameer.”


One Reply to “Wat soek jy?: Verlore items by HSB”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

eleven + three =

COVID-19

Vir meer inligting oor COVID-19 besoek die Departement van Gesondheid se webblad sacoronavirus.co.za

Voorwaarts Aanlynskoolkoerant

FREE
VIEW