Lien se lankstaanskoene beïndruk HSB-lesers
‘n Griekse eiland. Noorweë. Japan. Dis plekke waar Lien Jooste eerder wil wees as in hulle klein woonstel in Pretoria, met ‘n irriterende broer en ‘n ma wat óók nie daar wil wees nie.
Desperaat vir geld, sukkel Lien deur haar matriekjaar en begin sy die grense toets van wat sy sal doen om weg te kom. Sal Lien die pad vat, of sal ‘n vreemde vriendinnetjie, ‘n handige klasmaat en die skool se opvoering van The Breakfast Club genoeg wees om haar in die land te hou?
Derick van der Walt het op ‘n uitstekende manier ‘n humoristiese en hartroerende verhaal geweef in Lien se lankstaanskoene.
Daar word ernstige temas aangespreek in die boek, byvoorbeeld alkoholisme, armoede, vergifnis en die moeilike proses van grootword, deurentyd met vlymskerp humor.
Lien se lankstaanskoene skep ‘n glashelder beeld van vandag se wêreld met behulp van eksentriese (tog realistiese) karakters, die uitbeelding van daaglikse struikelblokke, groot en klein, en die oorheersende tema: die lewe is onregverdig.
Ten spyte van die talle negatiewe faktore in Lien se lewe, dra die boek ‘n boodskap van hoop, naamlik dat alle probleme met deursettingsvermoë oorkom kan word.
Lien se lankstaanskoene kan as ontspannende leesstof dien, maar daar is wel dieper betekenisse en simboliek om te vind indien die leser tussen die lyne wil lees.
Ek beveel hierdie boek aan vir alle tieners wat motivering benodig om meer gereeld ‘n leesboek op te tel, sowel as lesers wat hou van dramatiese storielyne en ‘n (amper satiriese) fokus op mense en verhoudings.

Hierdie boek is tans die voorgeskrewe roman vir gr. 10 Afrikaans Huistaal in Hoërskool Bonnievale. Toe ons dit onlangs klaar gelees het, het ‘n bedrukte wolk oor die klaskamer gehang. Vir die eerste keer in my skoolloopbaan was ál my klasmaats spyt dat ons klaargemaak het met ‘n voorgeskrewe boek. Ek dink hierdie feit spreek boekdele tot Derick van der Walt se lof. Lien kan haar lankstaanskoene maar enige tyd onder my bed inskop!
Indien u die lokprent wil sien van die film gebaseer op Lien se lankstaanskoene, klik hier.
![]()

Ek is 17 en ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Ek speel graag klavier en enige sportsoort waar ek mense ‘per ongeluk’ met ‘n bal kan raakgooi. Ek is ewe lief vir skryf, lees en om op die redaksie van die Voorwaarts te wees.