Missiele stort op Israel neer

Missiele stort op Israel neer


Op 10 Mei 2021 het die Palestyne begin om missiele op Israel af te vuur. Tot en met 18 Mei, bereken die Jewish Virtual Library, is meer as 3440 missiele vanaf die Gaza-strook afgevuur. Die teikens is verskeie Israeli-stede soos Jerusalem, Ashdod en Sderot.

Slegs tien Israeli’s het egter al gesterf weens hierdie aanvalle weens ‘n kombinasie van Israel se Iron Dome, ‘n mobiele lugafweerstelsel wat omtrent 86% van inkomende missiele onderskep, ondergrondse bunkers asook missiele wat of ver van hoë-populasie-gebiede of selfs binne-in die Gaza-strook val.

Volgens die Ministrie van Gesondheid in Ghaza is die slagoffertal van die Palestyne veel hoër. Daar is sover 213 Palestyne dood en meer as 1400 beseer weens Israeli-bombardering. Die konflik is nie tussen Israel en die Staat van Palestinië nie, maar tussen Israel en die Palestynse, Sunni-Islamitiese, militante en nasionalistiese organisasie, Hamas. Missiele word dus nie van militêre basisse afgevuur nie, maar meestal direk van stede — en in sommige gevalle selfs woongebiede — af.

Hamas word deur Israel, die VSA en Europese Unie as ‘n terroristegroep beskou, maar sover weier die Verenigde Nasies om hulle só te verklaar.

Die missiele is afgevuur in reaksie op ‘n polisie-klopjag op die Aqsa Moskee, die derde heiligste plek in Islam. Die klopjag het gebeur nadat Palestyne klippe bymekaargemaak het in afwagting van botsings met die polisie en verregse Jode. Dit alles volg na ‘n tyd van algemene onrus in Jerusalem.

Die konflik tussen Jode en Palestynse Moslems bestaan al van die einde van die Eerste Wêreldoorlog af. Palestinië is van die Ottomaanse Ryk verwyder en onder Britse mandaat geplaas is. Toe die Britte op 14 Mei 1948 uit Palestinië onttrek het, het die Joodse leierskap die staat van Israel dadelik verklaar, maar nie waar hul grense sou wees nie.

Die Verenigde Nasies het in 1947 voorgestel om Palestinië in twee state te verdeel — een Arabies en een Joods. Die Jode het ingestem, maar die Arabiese leiers nie. Nadat die Britse mandaat gelig het, het vyf Arabiese weermagte Israel aangeval.  70 jaar en ‘n paar oorloë later beset Israel tans die hele Palestinië.

Die grense van die Verenigde Nasies se plan vir twee aparte state.
Die hedendaagse grense van Israel en Palestinië. Israel beset tans die Wesbank alhoewel dit nie aan hom behoort nie.

Israel het tot vandag toe nog nie met al sy bure, insluitend Palestinië, ooreengekom presies waar sy grense lê nie. Betogings, missielafvurings en bombardering duur steeds voort. Die meeste lande hoop dat die konflik sal ophou en dat grense op ‘n vreedsame manier bepaal sal word.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

8 + eight =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights