Koshuis klim koppie

Koshuis klim koppie


Op 9 September 2021 het die leerders van Huis Kalie Heese Koshuis, of die Koshuiskatte, soos hulle bekendstaan, Kruiskop net buite Bonnievale gaan uitstap.

Hulle is met drie skoolbussies na mnr. Daan Louw se plaas geneem, onder toesig van vier volwassenes, mnr. Stefan Prins (koshuisvader), mnr. Michiel de Villiers, juf Carli Wüst en juf. Bernelee Foruin. Mnr. Koos Wentzel (koshuiskomiteevoorsitter van die SBL) het met sy bakkie tot bo-op die kruin van die berg gery, waar hy vir hulle water en heerlike roomyseuitgedeel het. Hy het ook naartjies op sekere punte langs die pad gelos.

 

Die Koshuiskatte bo-op Kruiskop, wat hulle op 9 September uitgestap het. Foto: Mukulani Dube

Oom Eddie en tannie Annette Swanepoel (matrone) het vir die kinders hoender, wors en braaibroodjies gebraai terwyl hul gaan stap het wat hul terug by die koshuis geëet het.

Mnr. Stefan Prins sê dat hul ten minste een keer ̓n kwartaal iets lekkers vir die koshuiskinders reël. “Sommer om ̓n bietjie gees te vang en van die daaglikse roetine van eet, skool, studeer en slaap weg te breek.”

Hy vertel dat hul ̓n fantastiese groep kinders by die koshuis gehad het die afgelope paar jaar, wat baie trots is op die koshuis en min dissiplinêre probleme gee. “Dit is ̓n voorreg om hulle hier te hê en ons probeer dit vir hulle so lekker as moontlik maak.”

Ghilermo Jones (koshuisprefek) deel: “In my hele lewe het ek nog nooit gedink dat ek so ̓n uitdagende, warm en heerlike staptog aan die einde van my martiekloopbaan sou hê nie. Die koshuis het beslis geskiedenis gemaak met so ‘n lekker uitstappie en braai aan die einde. Ek is trots op en dankbaar vir die onderwysers wat saam met ons die perfekte staptog gereël het. Die kinders het dit vreeslik geniet.”

“Die staptog was fantasties! Weens Kovid-19 was baie van die koshuis-aktiwiteite gekanselleer. Om die kruis te sien was ongelooflik en die paadjie tot by die kruis, selfs meer. Die staptog het my laat besef dit maak nie saak wát jy doen nie, maar met wié jy dit doen,’’ vertel Deaqon Lottering (hoofprefek van die koshuis).

“Ons is baie dankbaar vir mnr. Victor Louw, wat ons toestemming gegee het om die pad met die pragtige uitsig op hul plaas te benut,” sê mnr. Prins

Alizeen Fransman en Maroshawn du Toit wat die Kruiskop uitstap met vriendelike gesigte. Foto: Mukulani Dube

Loading


One Reply to “Koshuis klim koppie”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eleven − six =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights