HSB op die planke

Dis doodstil in die saal. Die enigste klank is dié van die gordyne wat tsjjj-tsjjj oopgetrek word. ‘n Enkele, verblindende kollig is op die verhoog gerig. Die gehoor hou hul asem op, en leun vorentoe…
Hoërskool Bonnievale (HSB) gaan vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd ‘n toneelstuk op die planke bring. Die eerste keer in vyf jaar, om presies te wees.
Die vorige een was die “Speelgoedmaker van Honnaloelie”, maar hoërskoolleerders was egter heeltemal daarby uitgesluit.
Te danke aan HSB se skoolhoof, mnr. Johan Els, is dit hierdie jaar die hoërskoolleerders se beurt om dialoog te leer en in die kollig te staan. Dit is na aanleiding van verskeie versoeke en besondere belangstelling van HSB se leerders in drama. Die onderwysers wat in beheer sal wees is mnr. Shawn Will, me. Michelle van Zyl en me. Leana Rodrigues.
MIS: Die Drama is ‘n toneelstuk geskryf deur Reza de Wet, vir vier karakters. Nét vier karakters? het ek verbaas gedink toe ek die plakkate by die skool gesien het. Toe loer ek oor my skouer na die hordes leerders wat haastig verbystap. Ek besef skielik… natuurlik net vier karakters. Die drama handel oor ‘n misterieuse aand, ‘n nabygeleë sirkus, die onopgeloste raaisel van meisies wat spoorloos verdwyn… En mis.
Die drama is voorgestel deur mnr. Will wat reeds ‘n opvoering daarvan by Aardklop gesien het. Dit is ‘n goeie begin vir die skool se toneelspel omdat dit nie te lank is nie en min karakters het. Dit is dus perfek vir die taak om HSB se kultuurwaters te toets.
HSB-leerders kan ‘n oudisie aflê vir een van die vier karakters: Miem, Gertie, Meisie (die drie vroulike rolle) of Konstabel (die enkele manlike rol). Hulle kan ook kies om deel te word van die dekor- of bemarkingspan. Dit is dus nie nodig om die volgende Emma Stone of Ryan Gosling te wees om deel te word van die opwinding en/of spanning nie.
Die vooruitsigte van ‘n nuwe uitdaging vir HSB is opwindend, maar tog ook senutergend. Leerders moes lanklaas uithaal en wys op die verhoog. Tog is die hoop groter as die twyfel, en ek troos graag enige ander romantiese siele met dié woorde: “Here’s to the hearts who dream, foolish as they may seem.”
Kom ons sit sommer nou al ons hande bymekaar vir HSB en sy dromers.

Ek is 17 en ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Ek speel graag klavier en enige sportsoort waar ek mense ‘per ongeluk’ met ‘n bal kan raakgooi. Ek is ewe lief vir skryf, lees en om op die redaksie van die Voorwaarts te wees.
One Reply to “HSB op die planke”
Ek soek kaartjies vir die voorste ry asseblief! Kan nie wag nie.