Groen Masjien Laser Run tot in Portugal
Op 24 September 2022 het Malan Schoeman, gr. 6-leerder van Hoërskool Bonnievale, aan die Laser Run Wêreldkampioenskappe in Portugal deelgeneem. Hy was 6de in die uitdunne, wat hom laat deurdring het na die finaal, waar hy ‘n 8ste plek behaal het in die o.13-seunsgroep.

Malan en sy ma het op 19 September vanaf Kaapstad gevlieg.
“Die grootste uitdaging was die terrein. Hy is gewoond aan grasbane, maar die byeenkoms was op gladde, blink ‘cobblestones’. Die weerkaatsing het dit moeilik gemaak om te sien terwyl jy hardloop en om dan dadelik jou oë te fokus om te skiet,” noem Malan se ma, me. Kim Schoeman.
Daar was twee uitdunne waarin jy moes kwalifiseer om aan die finaal, later daardie selfde middag, te kon deelneem. Die 22 bestes is deur na die finaal, waarvan Malan een was.
Hy het begin met vyf teikens skiet; daarna het hy 300 meter gehardloop. Hierdie aksie word drie keer uitgevoer.
Malan moes vyftien teikens raakskiet en hy het net agtien skote nodig gehad om dié vyftien teikens te skiet, wat “BAIE goed” is volgens sy afrigter, me. Liezel Wessels.
Dit is hier waar Malan sy nuwe persoonlike beste skiet-tyd van 4.7 sekondes behaal het. Hy, saam met twee ander seuns wat in die Suid-Afrikaanse span was, het saam ‘n silwer medalje verower in die aflositem. Alles was op ‘n spesiale sportprogram, UIPM, uitgesaai; dus kon almal by die huis dit saam geniet.
Malan het ‘n jaar lank omtrent vier keer ‘n week vir die wedloop geoefen. “Almal oefen nog skiet op hul eie ook. Ons het heel winter gehardloop en skiet geoefen. Ons het ook landlope gedoen om fiks te bly. Die ander atlete wat saam geoefen het, het hom baie ondersteun en aangespoor,” noem me. Wessels.

Malan het in 2019 met moderne Pentathlon begin. Dit sluit vyf sportsoorte in: Laser Run (skiet op 10 m en hardloop 300 m x 3), triathlon (hardloop, skiet en swem gekombineerd) en biathlon (harloop en swem).
Malan het in 2019 begin deur aan ‘n paar byeenkomste deel te neem, wat me. Wessels aangebied het. Toe Kovid-19 ‘n realiteit raak, het dit egter alles laat stilstaan. Malan het deur 2020 en 2021 wel aanhou oefen saam met sy spanmaats en saam met me. Wessels.
Vanjaar het hy vir die eerste keer aan die Wes-Kaapse proewe deelgeneem. Daarna is Malan gekies vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in biathle, triathle en Laser Run. Hy het besluit om net aan die Laser Run deel te neem.
Volgens Malan se ma is hy nou meer gemotiveerd as ooit om baie te oefen en naweke aan byeenkomste deel te neem, nadat die reisgogga hom gebyt het.

Ek is ‘n gebore Bonnievaler en leerder in Hoërskool Bonnievale met ‘n passie vir sport. Ek hou van sosiaal wees en tyd saam met my vriende deurbring.