Grendeltyd wat ek nooit sal “vergeet” nie

Grendeltyd wat ek nooit sal “vergeet” nie


Het jy al ooit ‘n boek gelees wat so inspirerend was dat jy dit dadelik gaan toepas het en so weggevoer geraak het deur die toepassing, dat jy nooit weer aan die boek geraak het nie? Dit is presies wat met my gedurende hierdie grendeltydperk gebeur het, met die boek Moonwalking with Einstein deur Joshua Foer.

Joshua se boek oor geheue, Moonwalking with Einstein. Bron: The daily omnivore.

Hierdie boek is geskryf deur ‘n joernalis wat vir ‘n wetenskapsartikel ‘n berig moes skryf oor die VSA Geheuekampioenskap. Hy het aan een van die deelnemers, Ed Cooke, gevra wanneer Ed agtergekom het dat hy so ‘n wonderlike geheue het. Ed se antwoord was dat hy net ‘n normale geheue het. Inteendeel, as jy vir enige deelnemer moes vra wat hulle van hul eie geheue dink, sou hulle sê dat hulle almal net gewone geheues het, hulle het net hul geheues só geoefen. Ed het gesê hy wil dit nog bewys dat enige persoon dit kan doen deur Britney Spears op Amerikaanse Televisie te leer hoe om ‘n pak kaarte te memoriseer!

Ek is dalk nie jou tipiese Britney nie, maar ek sal ook graag wil leer hoe om ‘n pak kaarte te memoriseer!

In die res van die boek leer Ed vir Joshua die basiese van memorisering, wat van die ou tegniek van loki gebruik maak (loki is Latyns vir plekke) ook bekend as “Memory Palaces”. Dit is ‘n tegniek wat volgens ‘n Romeinse legende deur digter Simonides van Ceos ontdek is en van daar af tot en met die Middeleeue deur almal gebruik is. Dit is die tegniek wat van digters tot konings gebruik het om hul toesprake en gedigte te memoriseer.

Dit maak staat op die amper vanafselfsprekende feit dat, hoewel ons redelik sleg is om nommers en name te onthou, ons redelik goed is om plekke geografies te onthou.

En hier kom die geheim van hoe om ‘n pak kaarte te memoriseer. Om goed te onthou moet jy eers baie goed kan onthou. Aan al 52 kaarte in ‘n pak moet jy ‘n persoon, aksie en voorwerp assosieer.

Bv .

Speel kaarte
Kan jy ‘n pak kaarte memoriseer? Bron: Gymnasticsville
  • King van spades: Wilhelm – skop – bal
  • Ace van harte : Vincent van Gogh – teken – prente
  • Queen van harte : ouma – voer – hoenders

As jy ‘n pak kaarte kry om te memoriseer dink jy nuwe senario’s uit volgens die kaarte se volgorde en die mense in een van jou “Memory Palaces” (meestal my huis).

  1. Ace van harte – Vincent van Gogh
  2. King van spades – skop
  3. Queen van harte – hoenders

Dan sien ek in my geestesoog Vincent van Gogh in ons oprit. Hy is ‘n bietjie gesweet en konsentreer hard, hy loop aan, en skop ‘n hoender dat daar net vere spat. Ek hoor hoe kekkel die hoender soos dit ‘n gat, soos in ‘n strokiesprent, in die motorhuis se deur los. Ek loop versigtig oor die donsvere, wat ek amper kan voel teen my wange, op pad na die voordeur om die volgende drie kaarte te memoriseer.

Deur van dié manier gebruik te maak om kaarte te memoriseer hoef ek net 17 karakters in my “memory palace” te plaas. En siedaar, ek kan 52 kaarte se volgorde onthou.

Ná daardie hoofstuk in die boek kon ek nie my pak kaarte neersit nie. Ná so vier dae kon ek 52 kaarte in ‘n halfuur memoriseer!

Ek was baie trots op myself, maar na sulke intense konsentrasie is ‘n mens pootuit.

In die boek het die outeur, Joshua, uit sy pad gegaan om interessante mense te ontmoet. Onder andere die vergeetagtigste man in die wêreld.

Dit het Joshua — en my — laat besef dat alles wat ons onthou ons maak wie ons is. Jou lewe is net so lank as wat jy dit onthou. As jy vir die afgelope 50 jaar nie ‘n herinnering in jou kop kon stoor nie, soos arme EP (die boek gee hom ‘n skuilnaam) is daardie 50 jaar als verlore vir jou. As ons nie ‘n raamwerk van die verlede, hede en toekoms opbou nie sal ons lewe verbygaan sonder dat ons dit fisies agterkom.

In ons huidige samelewing is ons geheue een van die dinge wat ons nie vertrou nie en ons soek altyd ‘n uitweg om nie daarop staat te maak nie. Jou herinneringe is dit wat in ‘n groot mate jou persoonlikheid bepaal, selfs jou identiteit. As ons nie kies om ons lewens so onvergeetlik as moontlik te leef nie, mag ons dalk “korter” leef as wat ons alles beleef het. En soos ek agtergekom het met die kaarte, moet ‘n mens ekstra moeite insit en konsentreer om alles moontlik in te neem en nog verder aan jou biblioteek van herinneringe te bou en jou lewe so onvergeetlik as moontlik te leef.

Kyk na Josha se Tedtalk:

 

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

14 − 4 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights