Dominee groet ná 29 goue jare

Dominee groet ná 29 goue jare


28 Februarie 2021 is die laaste keer wat ds. Willem Liebenberg die boodskap vanaf die kansel van die NG Gemeente Vandermerwe sal bring.

Ná 29 jaar se bediening in die Bonnievale-gemeenskap tree ds. Willem aan die einde van dié maand af. Voorwaarts het vir oulaas by hom gaan kuier.

Ds. Willem Liebenberg op die kansel.
Ds. Willem op die kansel in die NGK Vandermerwe tydens ‘n doopdiens. Foto: Isolde Viljoen

Wanneer het Dominee hierheen verhuis en hoekom spesifiek na Bonnievale?
Ek en my gesin het in 1992 in Bonnievale aangekom. Ons het voor dit in Johannesburg in die Oos-Rand gebly. Ek het in my hart geweet ek sal op die platteland aard en dat die Here my beter in ‘n klein dorpie sal kan gebruik as in ‘n stad.

Bonnievale het my toe beroep en so het ek dit aanvaar. Vir my is dit een van die grootste stukke genade dat die Here my Bonnievale toe gestuur het. Dit was 29 goue jare in die bediening.

Wat het Dominee oortuig om in die bediening in te gaan?
Oorspronklik wou ek nie ‘n dominee geword het nie. Ek het gedink dat ek ‘n argitek of heel waarskynlik ‘n onderwyser sou kon word, maar ek het ‘n baie duidelike roeping ontvang in my matriekjaar se Pinkster, dat die Here my roep om ‘n dominee te word.

Ek het vir ‘n lang tyd vir die Here gesê dat ek ook mos vir Hom kon werk as ek ‘n argitek of onderwyser is, maar ek het nie vrede gehad nie, totdat ek besluit het om teologie te gaan studeer.

Ds. Willem besig om 'n kind te doop.
“…dat mense my toegelaat het om deel van hulle lewens te wees. In lief en leed.” Foto: Isolde Viljoen

Wat was van Dominee se spesiale oomblike van dominee-wees wat u sal onthou?
Wat vir my baie spesiaal is, is dat mense my toegelaat het om deel van hulle lewens te wees. In lief en leef.

Byvoorbeeld, mense wat ek getrou het, se kinders het ek ook getrou. Mense wat ek gedoop het, hulle kinders het ek ook gedoop en waar ek die oupa begrawe het, het ek ook die pa begrawe. Ek was deel van die mense se lewens, in hulle vreugdes en hul moeilike tye. Ek was deel daarvan gewees en dit was vir my baie spesiaal.

Wat is van Dominee se gunstelingverse?
Een vers wat ek verskriklik baie gebruik het, is Jesaja 41:10, want ek het dit altyd my “hospitaal-teksvers” genoem. Ek het dit altyd met mense gedeel wat gaan vir ‘n operasie, want die Here sê ses keer in Jesaja 41:10 ons moenie bang wees nie, want God is by ons!

Nog een is Romeine 8:39 — “want niks sal ons van die liefde van God skei nie.” Dit is ook vir my ‘n besondere ankervers.

Wat sal Dominee saam vat van HSB en die dorp?
Dit is baie spesiaal dat daar ‘n mooi band is tussen die kerk en die skool in Bonnievale. Dat die skool en die kerk vennote kan wees, saam kon werk en mekaar kon ondersteun het.

Ek het baie waardering vir die skool, die onderwysers en die kinders. Ek is trots op HSB en ek was baie betrokke. Ek het vir baie jare die CSV gedoen, die CSV-kampe, die CSV-klasse en ek was op skoolverwisselingskampe. Ek het altyd die saalopeninge baie geniet. Dit was vir my lekker om debat en redenaars te beoordeel. Ek was ook betrokke by die eerste en tweede tennisspanne.

Ek het ‘n noue band met die skool gehad en is baie trots op hoe die skool presteer. Ek het die waarde van die skool besef vir die dorp. As iemand iets leliks teenoor die skool gesê het, sou ek altyd opkom vir die skool.

Ds. Willem deel kospakkies uit by een van die plaasskole buite Bonnievale. Foto: Wilhelm de Wet

Ons het nie juis ‘n saalopening gehad hierdie jaar nie, maar mnr. Johan Els, die skoolhoof, kies elke jaar vir ons ‘n sub-leuse. Wat dink Dominee van hierdie jaar s’n: Bid en Werk?
Bid en Werk slaan die spyker op sy kop! Want jy kan nie bid en verwag dat die Here jou gaan help as jy nie jou deel doen nie. Dit is twee kante van dieselfde muntstuk.

In ons huis het ons altyd die volgende uitdrukking gehad wat baie mooi daarby aansluit, “Doen jou bes en vertrou die Here vir die res.” Dit is absoluut my geestelike aanslag, nie net in die skool nie, maar ook in die lewe.

Sien jy ook hoe spesiaal dit is hoe die skool ook plek maak daarvoor? In ‘n ander skool sal hulle sê: “werk hard en wen”, maar ons skool sê ”werk hard en bid”. Hulle maak soveel ruimte vir die Here en dit is vir my baie spesiaal!

Nog iets wat Dominee vir oulaas by ons wil los?
Die lewe is soms ‘n uitdaging. Ek dink KOVID-19 het drome kom verander, maar ek wil vir elke leerder sê, “Gryp die lewe!” Maak die beste van elke geleentheid. Die lewe is ‘n gawe uit die hand van die Here en dit is mooier en meer spesiaal as wat ons dit maak. Leef jou roeping uit en vertrou die Here vir die res!

Om ds. Willem se preek van 28 Februarie te kyk, volg Kanaal van Jesusliefde.

Loading


One Reply to “Dominee groet ná 29 goue jare”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

19 + one =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights