Dissipline in klaskamers en detensie
Die sleutel tot ‘n suksesvolle skool is dissipline in die klaskamers. In Suid-Afrikaanse skole is dit ‘n tendens dat dissipline ʼn uitdaging is. Detensie is een van die sanksies wat lyfstraf vervang het, maar die vraag is: is dit effektief?
Regoor die wêreld sien en hoor ons dikwels van gewelddadige insidente wat in skole plaasvind. Volgens Afrikaans.com is dissipline iets wat in die huis vir ‘n kind geleer moet word. Dikwels is dit rebelse leerders wat uit gebroke huishoudings kom. Die rebelsheid is gewoonlik ‘n verdedigingsmeganisme omdat die kind weens slegte omstandighede van kleins af vir homself moet opstaan. Soms is dit ook uit frustrasie met sy/haar omstandighede en verskeie ander faktore. Swak optrede van een leerder het egter die krag om die hele klaskamer se aandag af te trek van die les wat die onderwyser probeer aanbied.

Hoe hanteer onderwysers slegte dissipline van leerders? Tot ‘n groot mate is onderwysers se hande afgekap. Aangesien lyfstraf nie meer wettig is nie, is uitskryfwerk en detensie die enigste opsies.
Ja, dit ís ‘n goeie ding dat lyfstraf afgeskaf is, want baie kere was kinders onregverdig te na gekom. Maar steeds sit baie skole met ‘n groot gebrek aan dissipline. Elke Vrydag, week ná week, is detensieklasse propvol. Maar wie se skuld is dit nou eintlik?
Dissipline begin by respek vir jouself, so eintlik is dit nie die ouer of die onderwyser se skuld nie.
Op Donderdag 25 April 2024 is daar aangekondig dat 38 leerders detensie sit in Hoërskool Bonnievale. Gelukkig, by my skool, Hoërskool Bonnievale, is vol detensieklasse ‘n uitsondering en is dit die meeste Vrydae klein groepies leerders wat detensie sit. Die fokus by HS Bonnievale is ook op positiewe dissipline, waar leerders gereeld gemotiveer en beloon word vir goeie gedrag en waar onderwysers leerders probeer ondersteun eerder as om net te straf.
Is detensies onderwysers se skuld? Nee, dit is nie. Onderwysers probeer beslis hulle bes om dissipline op ʼn vreedsame manier te handhaaf.
Volgens my, is detensie egter nie effektief nie. Beter strawwe vir leerders om hulself te beheer, moet definitief nagevors en geïmplementeer word.
