Bonnie presteer in Beeld-skryfkompetisie
Heinrich Wentzel van Hoërskool Bonnievale het ‘n vierde plek behaal in Beeld se nasionale Skryfkompetisie. Hy het in die kategorie Afrikaans Huistaal vir Hoërskole deelgeneem.
Hier volg sy wenopstel:
Bloukol
Soos my ma met grimering die bloukolle op haar gesig toesmeer, snik sy elke nou en dan. Sy kyk na my met pyn in haar oë en glimlag moeg. Sy is ‘n emosionele wrak. Wat het ons gedoen om dit te verdien?
Ek en my suster kruip inmekaargedruk weg in die hondehok wat my oupa vir ons uit geelhout gemaak het. Ek bewe soos ‘n riet en my suster ruk soos sy huil. Die klein, pikdonker spasie maak ons net nóg meer angsbevange.
Elke nou en dan hoor ons my besope pa se geskreeu en dan ‘n verskriklike hou. Dit is Vrydagaand. Die enigste liefde wat my pa toon, is dié teenoor sy bottel brandewyn, wat hom tog so goed kan verlei.
My pa se voetstappe kom al hoe nader. Ek en my suster weet wat voorlê. Hy is ‘n monster. Maar dalk het hy vanaand ‘n bietjie genade.
Ek hoop.
Ek bid.
Ek wéns eintlik.
Met ‘n helse hou skop my pa die hondehok dat die splinters spat. Dit is asof die hele aarde skud. My ma probeer hom keer met haar desperate gil, maar as ek weer sien, gryp hy my aan my nek. Sy drankasem in my gesig bring aaklige herinneringe terug.
Soos hy skop en slaan, voel ek nie eers die pyn nie. Ek ervaar net vrees. Vrees wat geen mens op hierdie aarde kan beskryf nie. Vrees vir die situasie. Vrees vir my toekoms. Vrees vir die pa wat ek eendag vir mý kinders gaan wees.
Ek sien ‘n dowwe beeld van my suster wat opgekrul in die hoekie sit en die polisie bel. Sy kan skaars ‘n woord uitkry, maar die polisie ken al die storie. Hulle weet dat hulle Vrydagaande ná tienuur die Jordaan-gesin moet gaan red van die duiwel onder hulle.
Die blou, flikkerende ligte weerkaats teen ons huis se vensters. ‘n Gevoel van veiligheid en rustigheid neem oor. Vir die eerste keer vanaand voel dit of ek weer asem kan haal.
Die polisiemanne storm in en forseer my pa tot by die motor. Dit is asof die hele buurt soos toekouers in die straat ophoop, met hul oë vasgenael op die tragiese sirkus.
Tot volgende Vrydag, dink ek soos ek die polisiemanne groet. Tot volgende Vrydag…

Ek is ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Tussen my familie en naaste vriende is ek op my gelukkigste. Ek is mal oor uitdagings en ek is baie lief vir my moedertaal.