Boef breek by Bonnies in

Boef breek by Bonnies in


Die dief besig om rond te snuffel in me. Chameron Mathys se klaskamer. Foto: Verskaf

Hoërskool Bonnievale het op 21 Julie die speelgrond van ‘n dief geword.

Daar is by me. Chameron Mathys (Afrikaansonderwyseres) se klas ingebreek. Die dief het by een van die vensters, wat bo die stoep aan die saal se kant is ingekom. Verlede jaar is ‘n stel luidsprekers vir elke klas in Hoërskool Bonnievale aangekoop. Die dief is met hierdie luidsprekers vort, maar dit is ‘n paar dae gelede weer opgespoor by ‘n winkel in Happy Valley waar die dief dit vermoedelik probeer wegsteek het.

Van me. Mathys se persoonlike items asook leerders se eisteddfodgeld is gesteel.

Volgens me. Mathys was die klaskamer die volgende oggend chaoties. Die kasdeure het oopgehang en al die netbalbibbies het rondgelê.

Volgens die video wat deur die kamerastelsel van die skool opgeneem is, is dit duidelik dat die dief presies geweet het waar die kameras is. Hy het heeltyd sekergemaak dat sy gesig nooit op die beeld vasgevang word nie.

Daar is dieselfde nag ook by ‘n stoorkamer, die hoërskool se snoepie en die trekkerstoor ingebreek, maar gelukkig word niks verder vermis nie. Die dief het egter skade aan al die slotmeganismes by hierdie store aangerig.

Me. Mathys se kommentaar: “Die oggend toe ek by my klaskamer instap het ek gesien dat dit baie deurmekaar was, dit het my ‘n bietjie skepties gemaak. Toe ek by my tafel kom toe besef ek dat daar iemand ingebreek het. My tafel was in ‘n toestand! Dit het my baie ontstel, want ek het nie veilig gevoel in my persoonlike spasie nie. Dit is ook ‘n plek waar ek en die leerders veronderstel is om veilig te voel.”

Volgens mnr. Stefan Prins (skoolhoof) is die Skoolbeheerliggaam besig om kwotasies te kry om óf alarmogies in al die klasse aan te bring óf sensors (beams) op die terrein rondom die hoërskoolgebou te installeer. Die laerskoolgebou word reeds ten volle deur sensors gedek en die alarm daar gaan al af voordat enige inbrekers tot by die gebou kan vorder.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eight − three =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights