Arena onder druk weens Kovid
Restaurante is een van die sektore wat die swaarste deur die Kovid-19-pandemie getref is. Verskeie restaurante het weens Kovid-regulasies hul deure permanent gesluit.
Voorwaarts het met mnr. en mev. Joppie en Lee du Preez, die eienaars van Arena Restaurant in Bonnievale, gesels om te hoor hoe hulle deur die pandemie geaffekteer is.

Wanneer het julle by Arena begin?
Ons het in Maart 2020 begin. Ons eerste dag het fantasties verloop, maar dit was ons eerste en laaste normale dag. Die dag daarna was reëls en regulasies rondom Kovid uitgestuur en ons moes toemaak. Ons was vir drie maande toe waartydens niemand iets kon kom eet en ons nie wegneemetes kon lewer nie; dus het ons geen inkomste gehad nie.
Hoe het Kovid julle beïnvloed?
Daardie drie maande aan die begin was ‘n moeilike tyd omdat ons steeds die restaurant en ons huis se huur moes betaal. Dit het nie net vir ons beïnvloed nie, maar ook ons personeel omdat hulle nie kon kom werk vir ‘n inkomste nie. Toe ons ná dié drie maande oopgemaak het vir aflewerings, kon ons steeds net op die meeste twee personeellede laat inkom om te werk omdat ons uitgawes moes sny, weens ons inkomste wat so laag was.
Hoe het julle besigheid gedoen toe mense nie kon gaan uiteet nie?
Toe streng regulasies effens gelig is, sodat kliënte wegneemetes en aflewerings kon bestel, het ons soveel as moontlik geadverteer. Ons het fotos van kos en ons nommers op verskeie sosiale media gepubliseer met die hoop dat ons weer ‘n goeie inkomste sal kry. Indien ons maaltye moes gaan aflewer, het ons ‘n afleweringsfooi gevra omdat ons nie die fondse gehad het om dit gratis te doen nie. Bonnievalers het ons geweldig goed ondersteun.
Hoe het julle aan die regulasies voldoen toe julle wel weer kon oopmaak?
Ons het ten alle tye maskers gedra, gedistansieer waar ons kon en baie ontsmet, veral in die kombuis. Daar is seker gemaak dat personeellede hulle hande was voor hulle aan kos raak, asook die oppervlaktes waarop gewerk is. Toe ons net aflewerings gedoen het, is hande voor en ná die aflewering ontsmet. Toe mense weer kon kom sit en eet, het ons die tafels gespasieer en ná elke groep mense die tafels deeglik gewas.
Hoe het Kovid die restaurantwese beïnvloed?
Mense wou nie gaan uiteet nie omdat hulle bang was en nie geld gehad het nie. Die mense wat restaurante besoek het, was dus maar min. Daarom het ons steeds bly aflewerings doen nadat die restaurant al oop was vir mense om te kom sit en eet.

Foto: Verskaf
Hoe sien julle die toekoms van Arena?
Dit lyk nie baie belowend nie. Reëls kan weer strenger gemaak word en restaurante sal moet toemaak. Daar word ook reeds voorspel dat daar in Desember nóg ‘n inperking kan kom. Alles hang af van hierdie onvoorspelbare virus. Dit is baie moeilik om nie vooruit te kan beplan nie, omdat ons nie weet wat net oor ‘n paar weke kan gebeur nie.
Restaurante is nie net ‘n aanwins vir die plaaslike gemeenskap nie, maar ook noodsaaklik vir toerisme, wat vir enige dorp ‘n finansiële bydrae is. Restauranteienaars en -klante moes aanpas te midde van al die swaarkry deur nuwe innovasie, volhoubaarheid en ‘n positiewe gesindheid.

Ek is ‘n gebore Bonnievaler en leerder in Hoërskool Bonnievale met ‘n passie vir sport. Ek hou van sosiaal wees en tyd saam met my vriende deurbring.
One Reply to “Arena onder druk weens Kovid”
Ons Bid vir alle restaurant eienaars en hul personeel. Alle sterkte uit Skotland.