LEESPRET IN GRAAD 1: LEESKONINGS EN LEESKONINGINNE GEKROON!

LEESPRET IN GRAAD 1: LEESKONINGS EN LEESKONINGINNE GEKROON!


Voor v.l.n.r.: Lianca, Jade, Phebe, Elijah, Johan, Sageley, Janru. Middel v.l.n.r.: Akeelah, Aiysha, Jeronique, Azalea, Cornelis, Juandré, Lira, Wian. Agter v.l.n.r: Jean, Muronique, Carlee, Néshaan. Foto: Juf. Tanya

’n Artikel deur Juf. Tanya van Heerden (graad 1-onderwyser by HS Bonnievale)

In die graad 1-klas is boeke nie net papier en ink nie – dit is sleutels tot nuwe wêrelde! Hierdie kwartaal het die leerders aan ‘n opwindende lees-uitdaging deelgeneem wat hul liefde vir lees bevorder en hul leesvaardighede versterk en verbeter.

Onder andere moes alle graad 1-leerders deur die loop van die jaar 119 leeskaarte lees. Juffrou het egter hierdie super-lesers uitgedaag om die leeskaarte teen die einde van Augustus te voltooi – ’n uitdaging wat harde werk, toewyding en ‘n klomp leespret vereis het.

Lesers het deur middel van stemnotas, lees tydens pouses en video’s van die huis af hierdie groot taak aangepak. Lesers is aangemoedig om vir enige iemand en almal te lees. Lees vir Ouma, ‘n biblioteektannie, jouself in die spieël, Mamma, Sussie of selfs jou hond! Solank jy nooit ophou lees het nie.

Ek glo dat elke kind ’n leser is – hulle het net die regte boek nodig om die vonk aan te steek. Hierdie uitdaging het gewys dat ons graad 1’s in staat is tot groot dinge.

Teen die einde van Augustus het 19 leerders die volle uitdaging voltooi en is hulle met trots gekroon as die klas se Leeskonings en Leeskoninginne! Die leerders het al my verwagtinge oortref en die jong kampioene het bewys dat volgehoue moeite en ‘n liefde vir lees hand-aan-hand gaan.

Maar die grootste oorwinning is dalk nie die kroon of foto in die koerant nie – dit is die glimlagte van trots, die blink ogies wanneer ‘n nuwe leeskaart self gelees kan word en die groeiende selfvertroue van elke leerder in die klas.

Die res van die klas word met groot trots uitgedaag om net so hard te werk en die leesuitdaging te voltooi.

Ons sien uit na kwartaal 4 en die nuwe leesuitdaging wat volg.

📚✨ Lees elke dag – en bou aan jou toekoms, een woord op ‘n slag!

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seventeen + three =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights