Ivor praat met Bonnies se harte

Ivor praat met Bonnies se harte


Bonnies geniet Jeuweek 2023. Foto: Verskaf

Ivor Swartz se naam het, saam met die woord van Jeugweek 2023, soos ‘n veldbrand onder Bonnievalers versprei. Ivor het Bonnies kom inspireer met sy lewensverhaal tydens Jeugweek, wat plaasgevind het by die NG Kerk Vandermerwe, vanaf 29 Januarie – 1 Februarie.

Daar was elke aand ‘n ander tema waaroor uitgebrei en in diepte gesels is. Die eerste aand is gesels oor God gebruik gewone mense: soos ‘n juffrou wat Ivor gehelp het om matriek te slaag in die tronk.

Die tweede aand het gegaan oor Kies die lewe: Jou keuses maak of breek jou.

Die derde aand se tema was Lewe doelgerig: Geniet jou lewe, maar lewe vir Jesus.

Aand 4 was die tema Connected: Jy moet iewers iemand toelaat en vertrou om in jou lewe te spreek.

Daar was ook ‘n sanggroep, met ds. Jandré Viljoen as hoofsanger. Jandré en sy groep was al vantevore by Bonnievale NG Kerk se Jeugweek betrokke. Hy is tans ‘n dominee in Ceres.

Ivor het ook op Maandag 30 Januarie by Hoërskool Bonnievale se hoërskoolsaalbyeenkoms die leerders kom toespreek. Hy het daar sy boodskap van aand 1 gedeel. Hierdie boodskap behels sy tragiese verhaal van hoe hy sy broer as jong seun geskiet het omdat hy moeilikheid met hom en sy vriende gesoek het voor ‘n shibeen.

Ivor het verder vertel dat hy in die tronk sy matrieksertifikaat verower het as gevolg van ‘n juffrou wat gevoel het sy moes in die tronk gaan werk. Sy het vir Ivor geïnspireer om skool klaar te maak. Volgens sy boodskap, gebruik God só gewone mense om ander te help. Daar was tydens die jeugweek van Ivor Swartz se boeke, getiteld Die verlore seun vannie Gaatjie en Kies die lewe, verkoop.

“Dit was regtig ‘n seën. Sy woorde het diep binne my bly vassit,” lewer Unadé Nel, ‘n matriekleerder van HSB, kommentaar.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

nine − 8 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights