Bonnie-Voortrekker as fakkeldraer
Roelof-Willem van der Merwe, gr. 12-leerder van Hoërskool Bonnievale (HSB), het op die vooraand van geloftedag (15 Desember 2021) die Voortrekkers se historiese feesfakkel gedra.
Meer as ‘n honderd gr. 5- tot gr. 11-Voortrekker-kinders het hom vergesel om die brandende fakkel vanaf Fort Schanskop na die trappe voor die Voortrekkermonument (VTM), Pretoria, te neem.

Daarna is die herdenkingsimbool, die Ewige Vlam, in die Senotaafsaal aangesteek.
Dit was die eerste keer sedert 1949 wat die feesfakkel aangesteek en gedra is. Oorspronlik is hierdie geskiedkundige juweel in 1938 gebruik om die Groot Trek se honderdste herdenking en die fondasielegging van die VTM te vier.
Ná die fakkel op 30 November 1938 in Kaapstand aangesteek en dit op 15 Desember Pretoria se monumentkoppie bereik het, was dit by die Universiteit van Pretoria brandend bewaar. In 1949 is die fakkel deur voortrekkers na die Senotaafsaal geneem.
Die oorspronklike Ewige Vlam was ‘n olielamp, wat met tyd deur ‘n elektriese vlam vervang is. Die elektriese lig is vir dié geskiedenisryke fakkelloop weer deur ‘n olielamp vervang.
“Ek dink dit was ‘n goeie idee om die elektriese lig weer te vervang met ‘n parafienlamp. Dit voel vir my of die elektriese vlammetjie nie die historise waarde daaragter so goed kon oordra nie,” sê Roelof-Willem.
Tydens sy besoek in Pretoria, het Roelof-Willem en van sy mede-Voortrekkers ook die glasblad bo-op die VTM vervang en dit opnuut laat blink. Die glasblad was vuil en gekraak en moes gerestoureer word vir die son om op geloftedag (16 Desember) daardeur tot in die VTM te skyn.

Roelof-Willem het in 2018 by die Voortrekkers aangesluit. Sedertdien het hy al op verskeie kampe gegaan en uitdagings in die gesig gestaar. “Dit is regtig ongelooflik lekker. ‘n Mens maak vriende vir ‘n leeftyd en bou goeie verhoudings met almal deur uitdagings saam aan te pak.”
Tot vandag toe voel Roelof-Willem dat daar altyd iets nuuts is om by sy mede-Voortrekkers te leer.
![]()

Ek is ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Tussen my familie en naaste vriende is ek op my gelukkigste. Ek is mal oor uitdagings en ek is baie lief vir my moedertaal.