HSB-wiskunde steek nie lyf weg nie

HSB-wiskunde steek nie lyf weg nie


Hoërskool Bonnievale (HSB) se matriekklas van 2020 het onlangs spoggerige nuus oor hulle Wiskunde-uitslae ontvang.

Op 31 Julie 2021 het Die Burger HSB aangewys as een van die 20 Afrikaanse skole met die beste wiskunde-uitslae in die Wes-Kaap, volgens die matriekeksamenuitslae van 2020.

“Ek is baie dankbaar vir die prestasie en trots op die matriekklas van 2020 wat, ten spyte van Kovid-19 en al sy uitdagings, aanhou hard werk het,” sê me. Aletta Els, vakhoof en graad 12-wiskunde-onderwyser by HSB.

‘n HSB-leerder hard aan die stoei met ‘n wiskundesom. Foto: Heinrich Wentzel

Die Burger het in die formaat van ‘n grafiek die wiskundeprestasies van 201 Wes-Kaapse skole vergelyk, wat ook die gemeenskap waarin die skool funksioneer se relatiewe welvaart in berekening bring.

‘n Eenvoudige formule van ‘n sekere puntetelling per persentasievlak is gebruik om hierdie prestasies te meet. Daar is byvoorbeeld een punt vir net die skryf van die wiskundevraestel aan ‘n skool toegeken en dan byvoorbeeld nege punte vir prestasies van 90% en hoër.

Die Burger beklemtoon dat hulle skoolgeld en alle skole se gemeenskappe se welvaart ook in berekening gebring het.

Só beskryf Die Burger die belangrikheid van wiskunde: “Wiskunde as vak is van kritieke belang – vir elke leerling se loopbaan en ook vir die land in sy geheel”.

‘n Uittreksel uit Die Burger van 31 Julie 2021 wys dat HS Bonnievale 16de plek behaal het in die top Afrikaanse skole wat wiskunde as ‘n vak aanbied in graad 12.

Die matriekklas van 2020 het uit hul pad uit gegaan om ekstra moeite met die wiskunde te doen met verskeie leerders wat middae ná skool en selfs op naweke vraestelle by die skool deurgewerk het.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

three + fourteen =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights