Nuwe burgemeester slaggereed vir termyn
Mnr. Schalk van Eeden is onlangs as die nuwe burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit verkies ná die afsterwe van mnr. Henry Jansen, die vorige burgemeester. Mnr. Jansen het die stryd teen Kovid-19 verloor. Heinrich van Voorwaarts Skoolkoerant van Hoërskool Bonnievale het met mnr. Van Eeden gesels.

Was dit deel van u toekomsplan om burgemeester te word?
Nee, glad nie. Ek het ingestem om aansoek te doen vir die kandidaat van my party nadat ek deur verskeie mense genader is om aansoek te doen en ná ‘n gesprek met my vrou. Ek het ook oor die saak gebid.
Watter aspekte van u grootworddae in Bonnievale het bygedra tot die fondasie en karakter wat u vandag het?
Die leiding wat my ouers vir my gegee het. Hulle was streng en regverdig en het my geleer om my medemens te respekteer.
Wat was vir u die grootste uitdaging tydens die skielike verandering van werksposisie?
Daar was geen uitdaging vir my gewees nie aangesien ek die laaste twee termyne saam met die vorige twee burgemeesters gewerk het. Ek was bewus van wat vir my te doen staan.
Wat is op die oomblik vir u die belangrikste fokuspunt in die Langeberg-distrik en hoe gaan u dit aanspreek?
Die veiligheid van al die inwoners. Ook ekonomiese ontwikkeling sodat werk geskep kan word vir dié wat wil werk. Mense moet hul menswaardigheid en trots terug kry.
Dink u die hoofstrate in die Langeberg-distrik is netjies, toerisme-aantreklik en besigheidsvriendelik?
Die wat klaar gedoen is, beslis. Sodra die padwerke in Ashton en Montagu klaar is, sal ons hoofpaaie van die beste in die provinsie wees.
Het u enige planne om die Kovid-19-gevalle in die Langeberg-distrik laag te hou?
Al wat ‘n mens kan doen om getalle laag te hou is maar voortdurende bewusmakingsveldtogte van die goue reëls vir Kovid-19: dra jou masker, was jou hande voordat jy aan jou gesig vat, hou jou afstand, ontsmet gereeld jou hande.
Hoe dink u het die koronavirus die Langeberg-distrik beïnvloed?
Baie negatief. Die werksverlies wat ondervind word, toeriste wat ons nie kon besoek nie, alkohol wat verban is en kinders wat vir ‘n lang tyd nie skool toe kon gaan nie het baie probleme veroorsaak. Ek dink die werklike negatiewe impak van die virus sal ons eers oor ‘n paar jaar voel.
Beplan u om die inwoners van die Langeberg-distrik meer te betrek by die ontwikkelingsproses van die gebied?
Ons betrek die inwoners reeds deur insae te vra op ons Geïntegreerde-ontwikkelingsplan (GOP). Ongelukkig gryp alle inwoners nie die geleentheid aan om hul insae te lewer nie. Ons kan nie enige ontwikkelingsplan op begroting sit as dit nie in die GOP opgeneem is nie.
As u vandag ‘n miljoen rand gekry het, hoe sou u dit op die Langeberg-distrik spandeer?
Alhoewel ‘n miljoen rand na baie geld klink, kan ons nie veel daarmee doen nie. Om bv. ‘n pad van een kilometer te teer, kos deesdae ongeveer agtmiljoen rand. Ek sal dus die miljoen rand gebruik om bv. watertenke en chemiese toilette aan te skaf vir gebiede waar daar nie is nie.
Waarna sien u die meeste uit as burgemeester?
Om beter samewerking tussen inwoners en besighede met die munisipaliteit te bewerkstellig.

Ek is ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Tussen my familie en naaste vriende is ek op my gelukkigste. Ek is mal oor uitdagings en ek is baie lief vir my moedertaal.
One Reply to “Nuwe burgemeester slaggereed vir termyn”
Baie goed geskryf Heinrich!