Sportklere, toe nie wat leerders verwag het nie?
Om ‘n heerlike warm sweetpak skool toe te dra klink mos nou baie beter as om in skoolklere te gaan, maar van ons Bonnies stem nie saam nie…
Sportklere

⭐⭐⭐
Sportklere is bekend om gemakliker as skoolklere te wees.
Die klere wat almal wens hulle elke dag skool toe kon aantrek en die rede waarom die hoërskoolleerders so jaloers raak as die graad 1-3 leerders op Dinsdae en Donderdae hulle sportklere mag aantrek.
Vele Bonnies het die geleentheid om sportklere by die skool te dra met albei hande aangegryp! Dit is gemaklik en lekker warm vir wanneer die winterdae ons dorpie so hard tref.
Sportklere is van ‘n baie sagter materiaal as skoolklere gemaak en die hoërskoolleerders het die geleentheid gebruik om hulle sweetpakbaadjies af te stof en weer te gebruik.
Marlé Oosthuizen (graad 10) sê:” Om sportklere skool toe te dra is ‘n eens-in-’n-leeftyd-ervaring en ons moet die geleentheid gebruik terwyl ons nog kan.”
Sweetpakke is baie lekker in die winter, maar die vraag op baie leerders se lippe is of sweetpakke nog so gewild gaan wees in die somer en of daar vergunnings gemaak sal word dat leerders steeds somersportklere sal mag dra?
Skoolklere
⭐⭐⭐⭐
Skoolklere is gewoonlik die klere wat jy so gou as moontlik in jou kas bêre as die klok lui vir vakansie en so lank as moontlik probeer vermy om dit weer aan te trek, maar in hierdie geval verkies die Bonnies om eerder met hul skoolklere te spog as om hulle sportklere aan te trek.
Alhoewel `n paar leerders voel dat sportklere die beter opsie is, verkies die meerderheid Bonnies skoolklere vir ’n paar eenvoudige redes.
Sekere leerders, wat meestal seuns is, besit glad nie sweetpakke nie omdat hulle veral by sportdae sommer dadelik in hulle wedstrydklere opdaag en daarom nie sportklere nodig het nie. Ander leerders voel weer dat skoolklere gemakliker is en ander verkies skoolklere doodeenvoudig net omdat dit netjieser lyk.
’n Artikel gepubliseer deur themuse.com bevestig dat leerders meer fokus en meer produktief is waneer hulle netjies geklee is.
Christiaan de Wet (graad 9) sê: “Ek verkies skoolklere, want dis ‘n bietjie netjieser as ’n sweetpak en ek is eintlik heel gemaklik in my skoolklere. Buitendien, vir mense so lank soos ek is dit moeilik om sweetpakbroeke te kry wat pas.”
![]()

Ek woon nog my hele lewe lank in Bonnievale. My gunsteling-aktiwiteit is om tyd saam met my vriende en familie deur te bring. Ek geniet dit ook om te teken en te bak-en-brou.


One Reply to “Sportklere, toe nie wat leerders verwag het nie?”
Goeie onderwerp!