Ek’s groot, wat nou?

Ek’s groot, wat nou?


Weeksaande is hy te sien op die kleinskerm in die bekende KykNET-sepie, Binnelanders. Sepiekykers, fliekgangers en musiekliefhebbers behoort dadelik te weet van wie ek praat. Jy ken hom seker as Louis Koster, maar wanneer hy nie in Binnelanders speel nie, is hy die eksentrieke en grapperige Germandt Geldenhuys.

Germandt Geldenhuys skryf oor hoërskool, beroepskeuses en drome:

Ek moet begin deur te sê: hierdie is amptelik die heel eerste keer wat ek iets vir ’n skoolkoerant skryf. Ek’t gedog dis net iets wat ‘n mens in flieks of televisiereekse uit Amerika sien.

Ek het eerlikwaar gedog so iets bestaan net in films. Ek het nie geweet dat ons hier aan die suidpunt van Afrika ook sulke wonderlike inisiatiewe het nie.

Germandt Geldenhuys waar hy die rol van Adolfo Perilli in die theater produksie Sweeney Todd in 2015 vertolk. Foto: Verskaf

As my skool ’n koerant gehad het, sou ek flippen gretig gewees het om daaraan deel te neem. Ek was nog altyd mal oor nuus en aktuele sake. Ek het vanaf graad 9 tot matriek selfs my eie “nuusprogram” elke Vrydagoggend op ons skool se aantreeblad aangebied.

Ons het gelukkig ’n baie cool hoof gehad. Hy het my so te sê vrye teuels gegee met betrekking tot die inhoud.

Het die snoepie se prys van toasted cheese and tomato-broodjies opgegaan? Jy kan maar weet ek sou iets te sê gehad het oor die snoepie-oom wat skielik ’n nuwe Fortuner ry.

Is daar moontlik ‘n verhouding wat stadig maar seker besig is om te ontwikkel tussen mnr. Herbst en juf. Claasens?

My valkoog het niks gemis nie.

Terloops, ek en die komediant Schalk Bezuidenhout was saam op skool – hy was so twee jaar onder my – en toe ek in my matriekjaar kom, het ek besluit ek wou nie die tradisie van “nuus” op die aantreeblad by my laat eindig nie. Ek’t toe die leisels aan hom oorgegee.

Baie van julle is seker nou al op daardie ouderdom waar almal vir jou begin vra: wat wil jy eendag wees?

Wat is jou droom? Wat wil jy in die toekoms doen? Ek dink dis soms onmenslik om van 16 tot 18-jariges te verwag om te weet wie hulle eendag wil wees, as hulle nog nie eers weet wie hulle is nie.

Op ’n stadium was my groot droom om ’n joernalis te word, of ’n nuusleser, tot ek besluit het ek sien nie kans vir al die navorsingswerk nie.

In 2019 was hy genomineer vir ‘n Golden Horn Award vir beste byspeler in ‘n rolprent vir sy rol as Ludolf Otterman in die Boxoffice-treffer, Kanarie. Foto: Verskaf

Daarna wou ek met alle mag ’n prokureur word. Toe ek besef prokureurs doen nie daai lang, uitgerekte monoloë en kruisondervragings soos op TV nie (en dat dit eintlik baie meer administratiewe werk is) was daardie gedagte ook by die deur uit.

En hier is ek vandag: akteur en sanger.

Was dit nog altyd my droom? Nee.

Is ek bly dat ek hier opgeëindig het? Beslis.

Die wonderlike ding van drome is dat hulle konstant mag verander – en dis oukei as hulle doen.

Jy is dalk een dag 100% gefokus op jou droom om die CEO van ’n massiewe maatskappy te word, maar oor 5 jaar besef jy dalk jou droom was nog altyd om by die huis te bly en kinders groot te maak. Dalk besluit jy om ná skool ingenieurswese te gaan swot, maar halfpad deur jou studies ontdek jy ’n liefde vir skilder.

It happens.

Dit is oukei.

As COVID-19 ons een ding geleer het, is dit dat niks in die lewe regtig gewaarborg is nie. Jy dink dalk jou werk is “essential”, dan gebeur ’n internasionale pandemie en jy moet soos die res van ons by die huis sit. Jy dink dalk jou droom is konkreet en vooraf perfek beplan, en dan verander dinge binne ‘n kwessie van weke.

Give yourself a break.

Maak foute.

Verander van plan.

As jy wil, kry vir jouself ’n nuwe droom.

En, as jy regtig passievol is oor die droom wat jy nog altyd gehad het, veg daarvoor as dinge moeilik raak.

Daar is geen enkele formule vir hoe jou toekoms gaan lyk nie – maak hom soos jy hom wil hê. En onthou, geluk en innerlike vrede is baie belangriker as enige titel, paycheck of graad. Maak dit jou groot fokus en alles anders sal in plek val.

Ek belowe.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

three × two =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights