Graad 8’s met ope arms ontvang

Gedurende die eerste week van die eerste kwartaal van 2020 was Hoërskool Bonnievale se graad 8’s druk besig met oriëntering wat deur die graad 11 en 12 VRL-lede aangebied is.
Die nuwelinge het vanaf Woensdag 15 Januarie tot Vrydag 17 Januarie verskeie speletjies gespeel om spanbou aan te moedig en om mekaar beter te leer ken, onder andere netbal, sokker, Rummikub, Uno, 30 Seconds, Pictionary en toutrek. Alles was egter nie net pret en speletjies nie; hulle moes ook gereeld die skoollied sing en die skoolterrein verken en leer ken.
Vrydagoggend het mnr. en me. Rian en Marí Boshoff (jeugmentors by HSB) onderskeidelik met die seuns en meisies gesels. Mnr. Rian het oor respek vir ander en groei in jouself gepraat en juf. Marí oor die kosbaarheid van ‘n kind van God wees.
As afsluiting van die oriënteringsweek het die hele graad 8-klas Vrydagaand 17 Januarie in die skoolsaal oorgeslaap, waartydens mnr. Rian en juf. Marí weer ‘n geestelike boodskap met die hele graad 8-klas gedeel het.
Die VRL-komitees het gedurende die aand ook verskillende stasies gevorm waartussen die gr 8’s moes beweeg. Die CSV-komitee het byvoorbeeld woorde vanuit die Bybel gehad wat by emoticons gepas moes word om Bybelstories te vorm. Die sportkomitee het ‘n sportvasvrae gehou. Die skoolredaksie het koerantopskrifte gegee en dan moes hulle die inhoud van ‘n berig en die opskrifte bymekaar pas. Die sosiale komitee het die gr.8’s geleer sokkie en die kultuurkomitee het hulle algemene kennis getoets ten opsigte van die huidige popkultuur. Die koshuiskomitee het kaart gespeel met die graad 8’s.

Die graad 8’s het ook voortgebou op die tradisie van die vorige twee jaar om ‘n boom te plant tussen die hoërskoolgebou en die netbalbane. Hulle het ‘n Karob (Ceratonia siliqua) geplant.
Danika Grobler (gr.8) sê dat die oorslaap verskriklik lekker was en dat die skattejag haar gunstelingaktiwiteit was.
Ruach Wessels (hoofseun van HSB) sê: “Ek dink die oriëntering was ‘n groot sukses. Ek glo ons het hulle [die graad 8’s] goed ontvang en dat hulle gou tuis gevoel het by ons en by die manier waarop die skool funksioneer. Ek dink ook dat hulle ‘n belowende groep gr. 8’s is en dat hulle goed sal presteer as hulle saamstaan.”

Ek hou daarvan om te dans, te lees en na musiek te luister.
3 Replies to “Graad 8’s met ope arms ontvang”
Dit was groot pret!
Baie oulik, Marlé!
Heinrich, baie dankie vir jou sluipwerk tydens die oriënteringsweek! Die foto’s is baie goed. Jy sal eendag ‘n aanwins vir enige kiekiebende wees. ?