Wie pluk die vrugte?

Wie pluk die vrugte?


Die graad 8’s van Hoërskool Bonnievale het ‘n tradisie: ná die eerste week van orientëring plant die klas ‘n graad-8-boom. Die graad 8’s is dan verantwoordelik om die boom te versorg deur byvoorbeeld daarvoor water te gee.

HSB se gr. 8-oriëntering was iets om te onthou. Hier het die graad 8’s ná hulle deurnag ‘n nabye geleë koppie gaan uitklim. Foto: Fleur Slot

“Nuwe besems vee skoon,” dink ek is die mees gepaste manier om ons poging te beskryf. Die eerste paar weke is die taak met groot erns aangepak, elke dag het iemand ons geliefde boom gaan water gee. As ons daarvan vergeet het die dag, het party onderwysers ons selfs herinner. Ek dink dit was egter iewers vroeg in kwartaal 4 wat die meeste entoesiasme heeltemal verdamp het en die boom oorgelaat is aan die wrede kragte van die natuur.

Soos te verwagte van so ‘n jong boom het hy doodgegaan, stadigaan vergaan en is heeltemal vergete. Op ‘n dag in graad 9 het ek en my ouers gewonder hoe dit dan gaan lyk as my jaargroep die dag in matriek is en die enigste groep sonder ‘n boom gaan wees.

Gedrewe met hierdie vreeslike gedagte het ons aan die werk gespring. Ons eerste stop was Robertson kwekery om ‘n boom gekoop. Daarna het ek Braveheart se monoloog opgesoek en toe my eie vertaling daarvan voorberei! En met my ongelooflike inpirerende slot: “They may take our tree but they will never take our legacy!” het ek die hele klas opgesweep om gat te grawe dat die stof so staan.

Maar toe die stof gaan lê, het het niks eintlik verander nie. Dit was net ‘n nuwe boom, ons was net ouer en ‘n nuwe besem is maar net weer aangeskaf.

Tot my skaamte kan ek eerlikwaar nie vir jou sê wat van ons boom geword het nie, want ek het heeltemal belangstelling daarin verloor. Dit is eintlik vreemd vir my, want ek het die boon gekoop, die reëlings getref en kinders het selfs hul pouses opgeoffer om te help grawe en ten spyte van die feit dat ons almal iets opgeoffer het daarvoor, het ons nie die saak waardig genoeg geag om daarmee vol te hou en na die boom te kyk nie.

Ek glo dit kom neer op een ding wat die meeste van ons jongspan, ek ingesluit, dalk net nog nie onder die knie het nie, en dit is om vir iets te werk waarvan jy nie die vrugte pluk nie. Dit kom eintlik as vreemd voor vir my, want dit is eintlik ‘n baie duidelike tema as Bonnievale iets doen wat eerste of die beste is.

‘n Portret van die jong Myrtle Rigg in die gedenkkerkie se voorportaal. Foto: Christiaan de Wet

Om ‘n paar voorbeelde te noem:

Die eerste en enigste kerk in die wêreld wat op versoek van ‘n kind gebou is. Myrtle Rigg is op sewe dood aan breinvliesontsteking en sy het gereeld vir haar pa gevra hoekom hulle nie ‘n kerk van hulle eie hier in Bonnievale kan hê nie. Toe sy dood is, het haar pa ter nagedagtenis aan haar ‘n kerk laat bou.

Wat mooi is van hierdie storie vir my is dat sy volgehou het met haar versoek dat die dorp ‘n kerk moet kry, selfs verby die punt dat sy geweet het sy dit nooit sal kan geniet nie.

Voorwaarts-redaksie is een van Bonnievale se grootste bronne van trots. Logo-ontwerp: Lian Beukes

‘n Ander voorbeeld in Bonnievale is ons buurskool Jakes Gerwel Tegnies (JGT). Hierdie unieke skool, met Tegniese, Landbou en Vaardigheidsvakke is deur mense uit ons gemeenskap geïnisieer, gebou en bestuur oor ‘n tydperk van 4 en ‘n half jaar. Die skool het miljoene rande gekos om te bou en mense offer baie vir die skool op, sonder dat hulle eie kinders in JGT is.

Die vrugte daarvan is dat daar nou ‘n nuwe skool is en reeds amper 700 kinders wat nie voorheen in Bonnievale kon skoolgaan nie, kan nou hul drome bereik.

Een laaste voorbeeld waar aan ek dink is aan ons eie Voorwaarts Skoolkoerant. Die Beste skoolkoerant in die land! Elke liewe berig wat geskryf word, selfs die uitleg, word deur mnr. Stefan Prins (skakelonderwyser) en juf. Cornel Koorts hersien en geproeflees. Moenie my verkeerd verstaan nie, die redakteur werk ook verskriklik hard om daardie uitslae te bereik. Ek sê net ek sien dat die enigste twee konstantes is dat Voorwaarts Skoolkoerant die beste in die land bly en, mnr. Prins is daarby betrokke. Saam werk die redakteur en die onderwysers kliphard om hierdie  vrugte-oes te bewerk stellig.

Maar weereens, daar word nêrens ‘n “proefleser” of “skakel-ondewyser” genoem nie. Agter die skerms is daar onderwysers wat die koerant moontlik maak, wat nooit die kalklig saam met die redaksie deel nie.

Hierdie lyk vir my na ‘n belangrike les wat ons jaargroep sal moet leer as ons eendag ‘n “legacy” wil nalaat hier in Bonnievale. Ons moet bereid wees om bome te plant waarvan ons nie die vrugte gaan pluk nie.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

seventeen − 12 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights