Vurige vroue
Augustus is Vrouemaand. Ek kon aan niemand beter dink om iets oor vrouwees te skryf as Kim Cloete nie. Sy is ‘n entrepreneur, aktrise en vervaardiger. Jy het haar dalk al op TV-programme soos 7de Laan, Binnelanders, Fynskrif, Hotel en Arendsvlei gesien. Sy het tydens die grendeltyd haar eie inisiatief ingeneem en haar nie-regeringsorganisasie, wat lewens verander, het ‘n voedingskema begin wat die lewens van baie mense beïnvloed.
Kyk hierna om meer uit te vind oor Kim se voedingskema:
Kim Cloete, TV-ster en voormalige radio-aanbieder, spoel haar hart uit oor wat vrouwees behels:
Ek is grootgemaak deur vrouens wat dans met vuur. My grootwordjare is gevul met vlamme van vrouwees en vrou-word. Ek was mak vir die groter deel van my menswees. My dae was vol van: “eendag wanneer ek groot is…”
Ek ís nou groot.
My aanvanklike sin van wat vrouwees is, is gebore uit my ervaring van vroue wat vanaf 1904 tot 1957 gebore is. Die perspektief is wyd. Ek moes my aansien aansienlik aanpas oor die laaste dekade van my lewe. Vroue is kwesbaar. Vroue is sensitief. Vroue is intuïtief. Vroue dra kennis ouer as tyd. Vroue is militant. Vroue het lief. Vroue dra kinders. Vroue beskerm. Vroue baklei. Vroue bewaar. Vroue onthou. Vroue maak heel.
My ervaring van vrouens is bittersoet; die beste, die seerste en die lojaalste ervaring van die lewe vir my. Ek word nou beskou as een — ‘n vrou. Die besef van my doel hier as mens is amper groter met die besef dat ek vrou is. Sosiale beskrywing verander. Professionele verwagtinge verander. Persoonlike doelwitte skuif en vroulike vereistes word amper onbereikbaar in die verstaan tussen die ou en nuwe ideaal, net groter.
Die dae van net huisvrou en ma wees, is verby, nie dat dit enigsins maklik is of was nie. Ons beheer nou maatskappye, industrieë en die ekonomiese gaping tussen ons en mans word al hoe kleiner. Die nood vir samesyn word al hoe sterker en ons maak nou meer moeite vir die gemeenskap van vroue. Ons kom weer bymekaar en die nood vir raad deel is nodige medisyne.

Ek dink vroue besef meer en meer dat ons aan mekaar se kant moet wees en bly. Ons is ons grootste kritici. Ons plaas geweldige druk, nie net op onsself nie, maar op ander vroue. Ons is gereed vir baklei, veral met mekaar sonder enige einddoel of rede. Die kompetisie is lankal verby en is beslis nie onder of tussen mekaar nie.
Ek is bevoorreg om my vurigheid te ervaar sonder enige misverstand of ontwrigting. Van ma Kalie, geneser met haar eie kruietuin en nie ‘n enkele dag van ‘n dokter se ondersoek nie, tot ‘n enkel ma-vriendin met ‘n voltydse werk en geen familie ondersteuning in ‘n stad gevorm uit immigrante uit ander dele van ons land. Ek is een van min wat alles kan ervaar as vrou sonder die verantwoordelikheid wat so min erken as vurig. Ma-wees is “The ultimate warriors”!
My grootste eer gaan aan vroue wie voltyds sterk vrouens en goeie mans grootmaak. Die grootse en beste bydrae tot ons storie. Die grootmaak van goeie mense.
Hoe konsolideer ons ons eie uitdagings en deelname in ander aspekte van ons sosiale groei in ‘n tyd wanneer net ma- en vrouwees nie meer as die belangrikste geag word nie? Ek reken die kwaliteit van ons vurigheid as vrouens word uiteindelik gemeet aan die “baba-mensies” wat deur ons kom, fisies of die kreatiewe soort. Hoe goed en nodig is die wat jy geskep het vir die kollektiewe?
As mense het ons baie maniere ontdek vir skepping en baie vroue wat nie kinders kan baar nie, baar idees. Baie vrouens wat kinders baar, moet aanhou werk om hierdie idees te help lewe gee. Sommige kan al hulle aandag gee aan die grootmaak van dié wat eendag hierdie selfde idees meer rede kan gee.
Ons het mekaar nodig. Ons besef dit meer en meer met elke generasie. Dié rol wat elke vurige vrou kies om te speel in ons tyd, is belangrik. Die verskil tussen nou en dan is dat daar meer eer gegun word vir ons individuele keuses. Die minagting van mekaar is gebore uit ‘n sin van die opheffing van alles “nie-vroulik” in vroeër tye en ‘n natuurlike gees van kompetisie het dit vergesel. Dit was vals en ek dink vroue, vurige vroue, het uiteindelik tot die besef gekom. Die tyd van die martriarg is nie meer ‘n droom of wens nie. Sy is terug.


Ek is ‘n baie eerlike persoon en ek dink dikwels meer realisties oor dinge. Ek hou daarvan om saam met my vriende te kuier en om sosiaal te wees.
One Reply to “Vurige vroue”
Well done Anja!