Verandering is moeilik maar soms die moeite werd

Verandering is moeilik maar soms die moeite werd


Hande wat sweet. Vrees in my hart. ‘n Gevoel van my-hart-gaan-enige-oomblik-uit-my-borskas-spring. Dit is hoe ek nog altyd in ‘n vertrek vol mense gevoel het.

Ek was nog altyd ‘n introvert. Om alleen te wees het baie voordele, maar nóg meer nadele. Om nooit te voel dat jy inpas nie, jouself gereeld af te vra: “Doen ek dinge reg?” of “Wat dink hulle van my?”

Ek is hierdie jaar in matriek en het besluit om dinge ‘n bietjie te verander, of om ten minste nuwe dinge te probeer. Die eerste stap wat ek geneem het om oor my vrees vir groepe mense te kom, was om te probeer om minder bang te wees om ons Valentynsbal van 2024 by te woon. Dit is ‘n aand van glim en glans, ‘n aand waar die kinders op hulle deftigste wil aantrek, want dit is een van die min geleenthede wat ons as leerders gebied word om met jou beste pak of rok in jou klerekas te spog. Dit is ook die dag van liefde en jy wil graag spoggerig lyk vir jou geliefde. Dit mag dalk na ‘n klein stappie klink, maar vir my was dit ‘n massiewe stap om te neem.

Ek het wel op 14 Februarie na Hoërskool Bonnievale se Leap Into Love Valentynsbal gegaan. Ek was ‘n bietjie bang en op my senuwees, maar saam met my vriende was dit die beste aand van my lewe.

Ek het my gate uit geniet saam met my vriende en selfs kaalvoet oor die dansvloer gesokkie.

Aand van die valenteinsbal Leap into love 2024
Junadé Carolus (links) en Angel Williams (regs) by HSB se Valentynsbal 2024.

Daardie aand het ek besef dat die lewe baie beter is as jy veranderinge gaan toelaat. Wees bereid om nuwe dinge te probeer en uit te vind of jy daarvan hou. Eerder as om vir ewig in ‘n hoekie te sit en jou vrese te laat oorneem.

Lees hier vir meer raad vir introverte

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

5 × 5 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights