Terugblik op Bonnies se eerste Burger Jeugleierskonferensie
Ek het die voorreg gehad om 11 tot 15 Desember 2022, soos vele ander hoofleiers van Hoërskool Bonnievale voor my, Die Burger Jeugleierskonferensie by te woon.
Mnr. Pierre Albertyn, my buurman, was die eerste hoofleier van Hoërskool Bonnievale om die 16de Burger Jeugleierskonferensie by te woon in 1974. Hy deel die volgende terugblikke met Voorwaarts.
Wie het Oom gehelp om vir Die Burger Jeugkleierskonferennsie in te skryf en by te woon?
Hoërskool Bonnievale se skoolhoof, mnr. Alkie van der Merwe, het my ingeskryf en gehelp om dit by te woon.


Waar was die konferensie gehou?
Dit was by Die Burger se strandhuis in Muizenberg gehou.
Kan Oom nog iets onthou van wat Oom daar geleer of beleef het?
Wat ek geleer het, kan ek tot vandag toe onthou. Die verskillende sprekers en die onderwerpe was baie polities en ek het baie van politiek gehou, so ek het dit dus baie interessant gevind.
Watter plekke het julle alles besoek?
Besoeke aan die vlootbasis en ‘n vaart na Walvisbaai. Kaappunt en Tafelberg was wonderlik om te sien. Vir ander plekke wat ons besoek het, sien ons program van vyf dae hier onder:

Moes Oom hulle ook ‘n toespraak gelewer het?
Ons moes ook elke dag toesprake gelewer het, nadat ‘n bekende persoon eers ‘n onderwerp verduidelik het.
My onderwerp het gehandel oor Volkeverhoudinge, wat my baie gepas het. Ek was baie liberaal van politieke sienswyse en het die regering gekritiseer oor die beleid wat in die land gevolg word.
My bestuurder het my vooraf gewaarsku dat ek nie die toespraak kan lewer nie, want Die Burger het daardie dae nog die regering ondersteun en die konferensie geborg.
Op hierdie noot het ek gesê dan gaan ek eerder stilbly, want ek weier om my standpunt te verander.
Hulle het my wel toegelaat om my toespraak te lewer en ek het geen kritiek gekry nie.
Ken Oom nog van die destydse leerders wat dit bygewoon het?
Ek het vir ‘n paar jaar daarna van hulle weer raakgeloop, maar dit is 49 jaar later en ek weet nie waar almal vandag is nie.
Lees Oom vandag nog Die Burger?
Ek lees nog vandag Die Burger. My pa het elke dag Die Burger en Cape Times gekoop en as skoolkind het ek dit gelees en die nuus baie geniet. Ek het die Die Burger die afgelope 50 jaar elke dag gekoop, maar deesdae dat dit digitaal beskikbaar is, koop ek so een tot twee keer ‘n week Die Burger.

In my matriekjaar wat gevolg het op Die Burger se strandhuiskonferensie, het ek aan die redenaarskompetisie deelgeneem by Hoërskool Bonnievale.
Tannie Marsella Beukman, wat tans in Huis Marta Jonker woon, was die onderwyseres wat die redenaarskompetisie beoordeel het.
Ek het dieselfde toespraak herhaal wat ek in Die Burgerstrandhuis gepraat het.
Ek het toe ook gewen, maar juffrou Marsella het wel genoem: “Pierre, dit was baie gewaagd…”

Ek is ‘n trotse Bonnievaler, wat hou van programering en musiek. En is natuurlik, ‘n trotse VOORWAARTS-redaksielid!