Tasse van ‘n ton

Tasse van ‘n ton


Lian Beukes, ‘n graad 9-leerder van HSB dra swaar aan sy tas. Hy dra dit ook net op een skouer, want hy moet vinnig by ‘n ander klas uitkom. Foto: Suzan Wentzel

“Genugtig! Is dit hoe swaar jou skooltas is? Wat het jy als hier in?”

“Dis maar net al my boeke, Mamma. Ek móét almal skool toe neem.”

Dis hoe my ma reageer het toe sy eendag my skooltas moes dra. Die tas wat ek elke liewe dag op my rug moet dra. Die tas wat 12.6 kg weeg!

Ek lees op 26 Maart 2018 op noordnuus.co.za dat kinders se skooltasse slegs 10% van hul totale gewig moet wees. Ek dink dan aan die enorme skooltasse wat die klein en fyn mense in ons skool moet dra. Daar is nie ‘n manier dat dit net 10% van hulle gewig is nie!

Ons kan wel ‘n sluitkassie vir die jaar huur en in sommige klasse mag ons die boeke in die klas los indien ons nie huiswerk het nie. Die probleem is egter dat daar ‘n beperkte hoeveelheid sluitkassies is en ons kry gewoonlik daagliks huiswerk in elke vak. Daarom dra ons dag na dag daardie swaar gewig op ons rûe.

‘n Studie wat in 2014 gedoen is, wys dat ongeveer 88,2% van alle leerders klagtes het van pyn in die nek, skouers en boonste gedeelte van die rug. Ongeveer 35,4% van hierdie kinders het gemeld dat hul swaar skooltasse die oorsaak van hul pyn was.

‘n Oplossing vir hierdie probleem is dat jy die skooltas op albei skouers moet dra of jy kan. Of jy kan ‘n sleeptas met wieletjies kry. Ongelukkig werk dit nie altyd nie. Jy moet baie keer só vinnig maak om by die volgende klas uit te kom dat jy net vinnig jou tas gryp en laat spaander. Jy vergeet dan heeltemal van “tas op albei skouers dra”.

‘n Sleeptas kan irriterend wees, aangesien ons gange klein teëltjies het en ‘n mens die hele tyd tik-tik, tik-tik, tik-tik hoor. Jy voel later sleg omdat jy dalk kinders wat toets skryf of kinders wat moet konsentreer, steur. Voor jy jou oë uitvee dra jy maar jou sleeptas in jou hand.

As jy by trappe moet oploop, moet jy ook jou sleeptas dra, want dit sal soos niks verniel.

‘n Swaar tas is ook ‘n groot tas. Wanneer ons in klasse wil loop om by ons bank uit te kom, moet ons so op ons hoede wees om nie oor een van daardie reusagtige skooltasse te val nie. Ons onderwysers is al menige male deur my skooltas gepootjie en dan moet ek maar net verleë om verskoning vra.

Wanneer die pouseklok lui en almal net hul tasse by die volgende klas neergooi om so gou as moontlik by hul vriende uit te kom, sukkel ‘n mens vreeslik om te loop. Daar is baie keer aan albei kante tasse en dan kan ‘n mens nie daar loop nie.

Swaar tasse is groot tasse… en swaar, groot tasse veroorsaak net probleme. Veral vir jou gesondheid.

So: wat van dalk ‘n bietjie minder huiswerk en meer sluitkassies?

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

3 + 14 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights