‘n Suiwel-storie

‘n Suiwel-storie


Kaas is een van die bekendste uitvoerprodukte van die Bonnievale-omgewing. Voorwaarts het vir ‘n produksiebestuurder by ‘n kaasfabriek gevra hoe ‘n dag in die lewe van ‘n kaasmaker lyk.

Me. Karla Steyl is die hoofkaasmaker en bestuurder by La Montanara, buite Ashton. Foto: Verskaf.

Waar werk u?

Ek werk by La Montanara op die pad tussen Ashton en Swellendam.

Wat is u rol by La Montanara?

Ek is die hoofkaasmaker en produksiebestuurder.

Wat is u gunsteling-kaas?

Ek is mal oor Halloumi en ‘n lekker Cheddar.

Watter uitdagings ervaar u elke dag?

Die vlak van my pos behels baie verantwoordelikheid. Die werk self is nie moeilik nie, maar ek is verantwoordelik vir baie mense en die uitvoer van hul werk.

Sou u hierdie loopbaanrigting vir iemand aanbeveel en waarom?

Definitief. As kaasmaker het ek baie van myself geleer. Kaasmaak is ‘n gekontroleerde proses waar jy eers die resep leer en dan hoekom dit werk. Dit is soos koekbak: jy moet by die riglyne hou vir ‘n suksesvolle eindproduk. Tog, wanneer jy meer van melk leer en hoekom die prosesse werk soos dit werk, besef ‘n mens hoe kreatief die proses is. Ek is iemand wat van streng riglyne hou en baie kreatief is en dus het ek dadelik by die pos aanklank gevind. As produksiebestuurder daag dit jou meer uit om te beplan, vir meer aspekte as net jou eie werk en die risiko en tydsberekening wat dit vir ander afdelings inhou. Dit is daagliks uitdagend, maar dís die lekkerste deel.

Hoe lank duur die volle proses van kaasmaak?

Een batch kaas neem drie uur, vandat die melk in die fabriek ontvang word tot die wrongel in die dreineringsvat is.

Watter kwalifikasies benodig ‘n mens om hierdie beroep te beoefen?

Wiskunde is baie belangrik. Op skoolvlak sal spyseniering ‘n voordeel wees en op universiteit sal voedselwetenskap die kursus wees wat jy kies. Die tipe persoon wat hierdie pos sal geniet, is iemand wat eerstens stiptelik is, tweedens netjies is, derdens hou van reëls en vierdens kreatief is.

Geniet u hierdie beroep, en waarom?

Ek love my werk omdat elke dag sy eie uitdagings het en ‘n mens nie sommer sal stagneer nie. Tyd, melk-samestelling, mense se teenwoordigheid of afwesigheid, die weer, is van die min goedjies wat elke dag verskil en ‘n mens se kop aan die gang hou. Ek is mal daaroor om met mense te werk wat in ‘n groep floreer — en dit is presies waar ek myself bevind.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

15 + nineteen =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights