Stroomop samel sterre in
Sterre: 4/5
‘n Avontuurfilm uit die boonste rakke met geen Indiana Jones of James Bond as die hoofkarakter nie, maar vyf doodgewone, diverse vroue.
Waarskuwing: Stroomop is uit die staanspoor ‘n tranetrekker met openingstonele in ‘n begrafplaas, by ‘n ongelukstoneel en in die hospitaal waar een van die hoofkarakters, Lana (Donnalee Roberts), as ‘n chirurg werk.

Bron: channel24.co.za
Die einste hospitaal het ‘n ondersteuningsgroep. Dis waar Adrie (Chanelle De Jager), Vivian (Simoné Nortmann), Diona (Ilse Klink), Nixie (Carla Classen) en Lana hulself bevind nadat hulle lewens in ‘n maalkolk beland. Hier besluit hulle om river rafting op die Oranjerivier aan te pak as ‘n vorm van avontuurterapie. Sal hulle die rowwe waters kan trotseer en oorleef met al hulle persoonlike bagasie?
Stroomop is ‘n spanningsvolle en opwindende rolprent. Dit het ‘n interessante storielyn wat ondersteun word deur uitmuntende aktrises.
Ivan Botha het die regie behartig en ‘n skouspel gelewer, met pragtige natuurskote ingeweef.
Die tegniese aspekte van river rafting word moontlik nie heeltemal realisties uitgebeeld nie en die positiewe boodskap kan oorbeklemtoon voorkom, maar dit sal nie pla as jy jouself toelaat om deur die roerende storie en goeie toneelspel meegesleur te word nie.
Sensitiewe kykers moet bewus wees dat daar wel bloederige oomblikke is waar hulle liewer hulle oë sal wil toeknyp.
Ek beveel Stroomop aan vir kykers wat hou van avontuur, die buitelewe en nie omgee om die sneesdoekies byderhand te hou nie. Chauviniste moet eerder hierdie film, oor sterk vroue-karakters, vermy.

Ek is 17 en ‘n trotse leerder van Hoërskool Bonnievale. Ek speel graag klavier en enige sportsoort waar ek mense ‘per ongeluk’ met ‘n bal kan raakgooi. Ek is ewe lief vir skryf, lees en om op die redaksie van die Voorwaarts te wees.