Atlete stadig om die baan

Atlete stadig om die baan


Atletiek is een van die belangrikste sportsoorte by HSB. Die sport bied talle geleenthede en HSB se atlete het al groot prestasies op provinsiale en nasionale vlak behaal. Gedurende die inperkingstyd was atletiek egter saam met die ander sporte afgestel. HSB is dus baie gelukkig om te sê dat die leerders uiteindelik weer kan oefen.

Ongelukkig is daar aansienlik minder atlete wat kom oefen as voorheen. Voorwaarts het mnr. Pieter Brink, hoofatletiekafrigter en sportorganiseerder van die skool, geraadpleeg.

Is daar ‘n afname in atletiek en hoe groot is dit?
Ek sien ‘n duidelike afname in deelname aan atletiek die afgelope paar jaar. Ek weet ons kon nie oefen nie a.g.v. Kovid-19, maar nou dat ons wel weer kan oefen, is die belangstelling nog baie swak — veral onder die hoërskoolleerders. Baie min leerders maak van die geleentheid gebruik om weer ‘n bietjie buite en op die baan te kom.

Watter impak het dit op die skool en hoe sien Meneer die toekoms van atletiek as dit so voortduur?
Die skool en sport in die algemeen word benadeel. Indien leerders nie in die somerseisoen aan sport deelneem nie, is hulle in die winterseisoen nie op standaard nie en ly ook die rugby en netbal daaronder. Ons skool het ‘n trotse tradisie van sterk sport en ons kon in die verlede teen sterk spanne meeding en hulle ‘n ding of twee wys. Ek is bang dat ons al swakker gaan raak en dat ons later nie genoeg spelers gaan hê om die spanne vol te maak nie. Atletiek help leerders om hul fiksheid te behou en uit te brei sodat hulle gereed is vir die rugby- en netbalseisoen.

Volgens Meneer, wat is die oorsaak dat so min kinders kom oefen?
Kinders het a.g.v. Kovid-voorskrifte en -beperkings opgehou oefen en gemaklik begin raak. Dit is nou te veel moeite om weer aan die gang te kom. Ek sien duidelik as die seuns pouses en in die LO-klasse speel dat hulle nie fiks is nie. En die meisies wil nie eens speel nie. Daar begin ‘n kultuur ontstaan dat meisies nie aan sport deelneem nie. Maar die groot rede waarom daar sulke swak deelname is (volgens my) dat kinders nie meer ongemak wil verduur nie en gewoond geraak het daaraan dat ‘n mens nie hoef te werk vir wat jy wil bereik nie. Ook dat hulle eerder nie wil probeer nie omdat hulle dalk nie so goed kan vaar nie. Daar is nie meer ‘n wil om te probeer en ‘n wil om hard te werk en te presteer nie.

Het Meneer dalk enige wyse woorde vir die kinders om hulle te motiveer om die atletiekoefeninge te kom bywoon?
Ek het al gesê dat ek wil huil as ek al die talent sien wat in die skool rondloop, maar ek sien hulle nie by die oefeninge nie. Dit is nie ‘n geval van dat daar nie meer talent is nie — dis maar net die geval dat mense nie hard wil werk om iets te bereik nie. Atletiek is nie net vir toppresteerders nie. Met elke byeenkoms word jou poging gemeet (afstand, hoogte, tyd) en kan jy sien hoe jy verbeter en vorder. Jy hoef nie te wen om deel te neem nie. En jy kry soveel gesondheidsvoordele en sielkundige voordeel uit oefening. Mense is nie baie wys om nie die geleenthede te gebruik nie. Die dissipline wat sport jou leer, kan jy net so toepas op jou lewe en in die klas en met jou huiswerk. Dit maak van jou ‘n beter mens.

Hoe het vorige jare se atlete by ons skool presteer en watter raad sal Meneer vir die kinders gee wat voel asof hul nie dieselfde hoogtes kan bereik nie?
Elke atleet wat sy/haar beste gee en hul persoonlike beste verbeter, is in my oë ‘n wenner. Ek sal volstaan daarby dat HSB die afgelope klompie jare gereeld medaljewenners by die SA Skolekompetisie en ASA-kompetisies gehad het. Dit beteken dat een van die beste atlete in daardie ouderdom en in daardie item uit alle atlete in Suid-Afrika uit HS Bonnievale kom! Alle atlete kan nie hierdie prestasies bereik nie, maar as atlete wat wel die vermoë het nie ordentlik oefen nie, sal ons nooit weer sulke prestasies in HSB sien nie.

Mnr. Pieter Brink (onderwyser, sportorganiseerder en atletiekafrigter) en juf. Surita Brink (LO-onderwyseres) Foto: Verskaf

 

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

two + sixteen =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights