Sportoefeninge put Bonnies uit

Sportoefeninge put Bonnies uit


“Vinnige voete, vinnige voete!” Die meisies moet op hulle tone bly om by te hou. “Kom seun, ‘n rugbyspeler is fiks!Die seuns moet ook maar net so kophou.

Op 3 tot 5 November 2020 het Hoërskool Bonnievale se netbal- en rugbyspanne hul eerste oefeninge, vandat die skool ná inperking weer begin het, bygewoon.

HSB-rugbyseuns by hulle eerste oefening van 2020 sedert inperking. Foto: Christiaan de Wet

Vir sommige leerders was die eerste oefeninge van die nuwe kwartaal net waarvoor hulle gewag het. Vir ander was dit ‘n uur of wat van hygende asems en borskaste wat brand.

“Dit was ‘n lekker oefening en ek was bly dat ek dit kon bywoon. Ons het heelwat rondgehardloop en mooi by die Kovid-regulasies gehou. Ek was redelik voorbereid vir ons eerste oefening, en dit het vir my nie te sleg afgeloop nie, maar is net spyt dat ons nie langer kans kan kry om te oefen nie. Tog sien ek baie uit na volgende jaar se oefening!” sê Christiaan de Wet (gr. 9).

Talle leerders stem saam dat dit moeilik gaan wees om iets op te bou. Sommiges voel dit is onnodig om die oefeninge by te woon omdat daar min leerders is wat opdaag.

HSB-netbalmeisies woon hul eerste oefening by sedert inperking.
Foto: Alicha la Grange

Me. Aletta Els (afrigter van die eerste netbalspan) sê alhoewel daar min tyd is, die oefeninge tog kinders wat dit bywoon bevoordeel deur hulle weer reg te maak vir ‘n normale oefenseisoen. Sy sê verder dat dit leerders help om agter te kom dat hulle moontlik op hul eie moet begin oefen om reg te maak vir volgende jaar.

Marsha Stalmeester (gr. 10) sê, “Die oefeninge was maar uitputtend en alhoewel ek nie voorbereid was nie, was dit vir my baie lekker omdat ek die kans gekry het om weer my stokperdjie uit te leef en ‘vry’ te voel op die baan.”

 

 

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

4 × three =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights