Oud maar nie koud – HSB begin Spat-are-rugbyspan
Die tekort aan rugbywedstryde wat deur die uitdagings van die Kovid-pandemie ontstaan het, kon nie ‘n hoogvat óf ‘n laagvat op ‘n groep onderwysers en rugbyliefhebbers in Bonnievale uitvoer nie.
‘n Paar onderwysers van Hoërskool Bonnievale (HSB) in die Wes-Kaap het besluit dat hulle, ten spyte van ouderdom- en fiksheidsuitdagings, ‘n o.54-rugbyspan op die been gaan bring.
Volgens een van die jonger onderwysers, mnr. Stefan Prins (37), was die katalisator van hierdie besluit die teleurstellende nuus dat nie een van hulle die oefengroep van 96 spelers gehaal het wat vir die Springbok Goud vs. Groen-wedstryd op 3 Oktober oorweeg word nie. Mnr. Prins sê: “Rassie Erasmus is my oom, maar hy het klaarblyklik nie eers aan my gedink nie. Bloed is duidelik dunner as water. Ek en twee van my goeie vriende, mnr. Darius van Loggerenberg en mnr. Michiel de Villiers, het toe om ‘n braaivleisvuur gestaan en besluit: de hel met Rassie én Jacques Nienaber, ons begin ons eie span.”
Al die posisies in en rondom dié belowende span is reeds gevul. Mnre. Alridge Mercuur en Johan Els (skoolhoof) is as afrigters van die span aangewys. Mnr. Mercuur het onder andere al as hulpafrigter van die Stormers en Junior Bokke opgetree. Sy rekord as afrigter op die rugbyveld is so te sê foutloos. Hy is ‘n gesogte breier in die Boland en veral bekend vir sy suiwer taalgebruik langs die kantlyn. Mnr. Els is, volgens verskeie oudleerders en onderwysers van HSB, ‘n formidabele leier – op, langs en van die veld af.
Mnr. Rian Boshoff gaan die losskakel van die span wees. Hy het tot onlangs nog goeie spel gelewer by die Blou Bulle. Hy sal ook die sielkundige voorligter van die span wees. “Sy energie en passie, selfs tydens vervelige Bok-Smart-kursusse, is aansteeklik,” sê een van HSB se rugbyafrigters oor mnr. Rian, wat tans ook afrigter van die skool se eerste span is.
Die slotpaar van die span beloof om ‘n sensasie te wees. Die nommer 4 en 5-posisies word gevul deur twee ligtorings, mnre. Stefan Prins en Darius van Loggerenberg. Mnr. Darius is, wanneer hy buk, ten minste ‘n kop langer as die Springbokke se Eben Etzebeth en het twee hande wat niks kan misvat nie, al probeer hy ook. Mnr. Prins se geheime lynstaanbeweging, die Fanie 5, het selfs potensiële borge só entoesiasties gehad dat Bonnievale Wines dadelik ingestem het vir ‘n borgkontrak van drie jaar.
Me. Githe van Loggerenberg, mnr. Darius se vrou en een van die rasieleiers (cheerleaders), het op Woensdag 23 September spesiaal Robertson toe en terug gery om borge te werf en sê die volgende oor Bonnievale Wines: “Hulle wou nie dadelik byt nie, maar toe hulle van die lynstaanpotensiaal hoor, het hulle dadelik ingestem.”
Van die onderwysers is ‘n bietjie onseker oor wat presies die borge kan bied. “Ons sal seker ons eie uitrusting kan bekostig, so eintlik hoef hulle net wyn te skenk,” meen mnr. Prins.
Mnr. Darius het tog bevestig dat Bonnievale Wines ook die vervoerkoste van die toerbus sal dek, met mnr. Lourentius Kirstein, adjunkhoof en betroubare busbestuurder tydens personeeluitstappies, aan die stuur. Die borg sal ook verversings voor, tydens en ná die wedstryd bied.
Juf. Karlien Oosthuizen het bevestig dat sy die snoepie by al die span se wedstryde sal behartig.
Aangesien die HSB-manspersoneel effens min is, moes die eggenote van die vrouepersoneel, asook Skoolbeheerliggaamlede, ingespan word.
Die finale span:
- Stut – Kobus Nel (Juf. Sané Nel se man. Die voorwaarde is dat hy nie sy rooi baard mag afskeer nie)
- Haker – Albert van Zyl (Die slotpaar voel hulle kan hom in die skrum bykom as hy nie lekker speel nie)
- Stut – Hennie de Wet (Hy moet lang toks aanhê, want hy gaan die hele skrum dra en sy nuutgevonde fiksheid is baie inspirerend)
- Slot – Stefan Prins
- Slot – Darius van Loggerenberg (Kaptein)
- Flank – Francois Hattingh (Onderkaptein. Hy sal foto’s van homself vir die media kan stuur as die res van die span besig is om te oefen)
- Flank – Valen van Heerden (Hy kan tegniese ontledings van die span se spel doen, wat niemand sal verstaan of in belangstel nie)
- Agsteman – Inus van Staden (hy verskaf die “vonk” in die span)
- Skrumskakel – Jan du Toit (aangesien hy altyd twee keer groet, gaan die agterlyn altyd weet watter bewegings om uit te voer)
- Losskakel – Rian Boshoff
- Vleuel – Dawid le Roux (Juf. Adele le Roux se man. Hy gaan die opponente met sy sê-goed blind hardloop)
- Senter – Michael Jordaan
- Senter – Ernest Fortuin (beide senters is só sterk en betroubaar dat hul eie spanmaats bang is vir hulle)
- Vleuel – Jovan Jordaan (Juf. Suzaan Jordaan se man. Hy mag ook nie sy rooi baard afskeer nie)
- Heelagter – Pieter Brink (Hy sal met sy atletiese lyf die teenstanders se meisies verlei)
Reserwes: Oom Wictor Herbert as impakspeler om die teenstanders seer te maak. Rico Hunter as verrassingselement en taalversorger. Johannes Tamboer om die span te seën en die boeke skoon te hou.
Noodhulp: Juf. Belinda Oosthuizen
Vlagman: Koos Wentzel. Geen span kan sonder ‘n betroubare vlagman nie. Hy sal ook kan instaan as assistentbusbestuurder en sal die koshuis verteenwoordig selfs wanneer dit nie eintlik nodig is nie.
Rasieleiers (cheerleaders): Tannie Desireé Wentzel (begeleiding en choreografie), Githe van Loggerenberg (ervare danser), Bernelee Fortuin (ervare danser en kwotaspeler).


Ek is.
One Reply to “Oud maar nie koud – HSB begin Spat-are-rugbyspan”
Vergeet van die Springbokke; Suid-Afrika het ‘n nuwe droomspan! As ek hierdie span in aksie sien, sal ek Kovid-19 vergewe vir al sy oortredings.