Oud-Bonnie Elmara Willis (Odendal) – maak geskiedenis
Oud-Bonnie Elmara Willis (Odendal) – maak geskiedenis
Elmara Willis (Odendal) was die eerste Bonnie wat op die merietelys (beste tien prestasies) van Kaapland se matrieks van 1961 verskyn het. Sy was die oudste dogter van Jannie (oud -burgemeester en kelderbestuurder van Nordale) en Claudina Odendal van Bonnievale.
Daarna het sy ‘n B.Sc graad op Stellenbosch verwerf. Sy was ‘n Wetenskap en Biologie onderwyseres. Tydens haar verlof aan die begin van 1974 ontmoet sy vir Lionel Willis en na ‘n blitsromanse van 6 dae raak hulle op Merwespont verloof. Die Engelsman vra haar toe om saam met hom en twee bemanningslede op sy seilboot die wêreld te gaan verken en langs die pad met hom te trou!
Hulle vertrek op 1 April 1974 met Shayele (Afrikaans: “tjaila”) nadat hulle hul familie gegroet het. ‘n Groep van 40 robbe en 2 dolfyne het hulle vir ‘n hele ent vergesel. Twee dae daarna was almal maar siekerig.
Tjaila waarmee hulle gevaar het. FOTO: Elmara Willis
Na 14 dae bereik hulle die St. Helena eiland waar daar taamlik baie grafte van die boere, wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het, was.
Die volgende was Ascension eiland. Hier het hulle groot skilpaaie gesien en beleef hoe die mamma eiers lê. Hulle het met NASA se werkers op die eiland rondgetoer en van hulle tegnologie beleef.
Toe op 29 Junie 1974 is hulle op Barbados getroud. Daarna verder na die eilande St. Lucia en St. Vincent, Venezuela en om die Nederlandse Antiles en verby Colombia en Kuba na die VSA waar hulle verskeie plekke en besienswaardighede besoek het.
Hulle het die seiljag op 5 Februarie 1975 in die VSA verkoop en so ‘n ongelooflike ondervinding afgesluit. Haar dagboekinskrywings het nou ‘n boek geword BOER EN BRIT SEIL SAAM
Op 24 April 1975 vaar hulle Tafelbaai binne met die skip Australis, waar die familie hulle ingewag en trane gevloei het. Die Willis-gesin is op 15 Junie 1975 uitgebrei toe Lin gebore is, en twee jaar later, Cindy.
Elmara en Lionel trou op Barbados FOTO: Elmara Willis(Kopiéreg)
Op 29 Junie 2023, op haar 49ste huweliksherdenking, sterf sy na ‘n 4 1\2 jaar stryd teen kanker met haar geliefde Lionel langs haar bed wat haar met twee bosse rooi rose in Bloubergstrand groet.