Oscars deel van matrieks se geesdag-Vrydae

Oscars deel van matrieks se geesdag-Vrydae


Vrydae by HSB (Hoërskool Bonnievale) is deesdae nie meer net nog ‘n doodgewone skooldag nie.

Sedert 5 Junie 2020 kry die matrieks van HSB die geleentheid om op Vrydae iets aan te trek wat gewoonlik as onvanpaste skooldrag beskou sou word.

Mnr. Johan Els, skoolhoof van HSB, het die gr. 12-leerders toegespeek toe hulle vir die eerste keer in grendeltyd skool toe gekom het. Hy het voorgestel dat hulle positief bly tydens dié verwarrende situasie en om die mooi daarin raak te sien. Die matrieks het sy raad gevolg en ‘n sterk gees behou deur Vrydae se kleredrag ‘n kinkel te gee.

Hulle het al onder andere ‘n Lawwe-sokkies-dag en daarna ‘n Onpaar-skoene-dag beleef. Daar was ook ‘n Vrydag waartydens hulle kappie-baadjies kon aantrek. Dié dae word ook op ‘n ligte noot afgesluit deur tydens tweede pouse musiek te speel.

Daar was selfs ‘n seremonie vir hulle gehou (wat natuurlik aan die protokol van die Kovid-19-virus voldoen het).

Een van die Vrydae-hoogtepunte was ‘n Oscars-seremonie wat op 3 Junie plaasgevind het. Die matrieks was in semi-formele drag gekleë en het elkeen ‘n toekenning (Oscar) ontvang. Die kategorieë waarvoor toekennings uitgedeel is, was onder andere: Mnr. “Blits-bene”, Mej. “Sarkasties”, Mnr. “Grapjas” en Mej. “Boekwurm”.

Soos die leerders by die verhoog opgestap het, is hul hande ontsmet en daarna is die Oscar-beeldjie aan hulle oorhandig. Keith Arnold en Suzan Wentzel was die seremoniemeesters by dié glansgeleentheid.

Tyra Ferus is uit haar vel oor haar spesiale toekenning as Mej. “Interessante feite”.    Foto: Janke Brink
Jovani Fransman pronk met sy Mnr. “Blits-bene”-Oscar.    Foto: Janke Brink
Michelle Tallie het Mej. “Gaaf” verower. Foto: Janke Brink

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Danwille Daniels, ‘n gr. 12-leerder van HSB sê: “Dis lekker om die roetine te breek en ‘n bietjie pret aan die einde van ‘n moeilike, lang week te hê.” Hy noem ook dat die matrieks van baie dinge ontneem is, maar dat Vrydae se lekker lag skool opwindender maak.

Loading


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

eighteen − one =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights