Oriëntering 2021: Net ‘n heen-en-weertjie

Oriëntering 2021: Net ‘n heen-en-weertjie


Op 15 Febuarie 2021 het Hoërskool Bonnievale haar 2025-Matriekklas verwelkom. Die Graad 8’ies het hul hoërskoolloopbaan begin met ‘n oriënteringsprogram saamgestel deur die VRL-bestuurspan.

Ongelukkig, weens die pandemie, was die program drasties verkort van drie dae en ‘n oornaggeleentheid na slegs een dag. Verskeie buitemuurse en prettige aktiwiteite kon nie plaasvind nie – vir die leerders se veiligheid.

Graad 8’ies ervaar ‘n skaarse oomblik van opgewondenheid tydens hulle oriënteringsessie in HSB se skoolsaal. Foto: Jean-Jacque du Preez

Die verkorte oriënteringsprogram het begin met ‘n verwelkoming deur mnr. Johan Els (skoolhoof van HSB). Hy het veral beklemtoon dat die Kovid-19-maatreëls gevolg móét word en sy tema vir die jaar (Bid en Werk) deurgegee.

Mnr. Pieter Brink het ‘n toespraak gelewer oor die gevare en toestand van die pandemie asook die veiligheidsmaatreëls wat toegepas moet word. Hy is deur mnr. Stefan Prins opgevolg, wat sosiale afstand, pouse-reëlings en algemene skoolreëls gedek het.

Daarna het die VRL se Bestuurspan begin met hulle aanbieding. Hulle het aanvaarbare skooldrag en gedrag uiteengesit en die Graad 8’ies op ‘n toer van die skoolterrein en -geboue geneem. Elke komiteevoorsitter het ‘n toespraak gelewer oor die aktiwiteite wat hulle aanbied en hoe om daarby betrokke te raak.

Jeugmentors, mnr. en me. Boshoff, het apart met die seuns en meisies ‘n Bybellessie gedeel.

Allison Fourie (hoofmeisie van Hoërskool Bonnievale) het gesê:”Alhoewel die oriëntering hierdie jaar anders gelyk het as wat ons aanvanklik beplan het, was die dag steeds ‘n sukses onder die omstandighede. Dit was lekker om die gr.8’s se gesigte (of eerder die helfte daarvan) te leer ken. Ek vertrou dat ons, ten spyte van die pandemie, nog ‘n lekker pad hierdie jaar saam gaan stap.”

Loading


One Reply to “Oriëntering 2021: Net ‘n heen-en-weertjie”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

four + 17 =

Voorwaarts Skoolkoerant
Verified by MonsterInsights